Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper | Stilering Marian van Wyk

Welkom!

Die muur direk oorkant die ingang na Maryke Roberts se huis in die Strand was eers net wit met ’n eenvoudige spieël, standbeeld en orgidee as fokuspunt. “Dit was vir jare so, maar ek was lankal lus vir ’n drastiese verandering – iets met lewendige energie wat jy sien sodra jy by die huis instap,” verduidelik sy.

Daarom het Maryke besluit op dié dramatiese geblomde plakpapier van Beyond Innovation Printing Shop. Omdat haar huis heelwat oopplan-vertrekke het met min muurspasie, het dié eenvoudige – en bekostigbare – verandering tonne trefkrag. Die fokuspunt staan uit teen die wit boog op die voorgrond, dit omraam die gastebadkamer pragtig en is sigbaar uit die voorkant van die huis (jy kan dit trouens uit die straat sien!).

Ons loop seker 100 keer elke dag by die muur verby, en dit bring elke keer vreugde. – Maryke

Soos in die natuur ...

Elna van der Merwe is dol oor botaniese afdrukke. Sy het ’n slaapkamer in haar huis in Parow omskep in ’n studeerkamer, en het besluit om ’n hele muur aan haar groeiende versameling te wy. “Ek het die muur ’n ryk groen (Dulux Woodland Fern 2) geverf as natuurlike agtergrond vir die plante,” sê sy.

Elna het houtskool rame gekies om ’n geheel te skep, en dit verseker dat elk van die blomprente behoorlik tot sy reg kom!

Voël-strooikussing van Woolworths; deken en botaniese kussing van Arabesque 

Bloktyd

Rosemary Barker het dié lieflike fokuspunt in die Airbnb-ruimte in haar huis in Simonstad geskep.

Sy het blou (Midas Envirolite in Silvery Sea Fayre) vierkante op ’n bestaande geel muur binne ’n raam van 235 x 90 cm geverf, en daarna bordjies wat sy oor jare by kattebakverkopings gekoop het, met alkantplakband op elke vierkant teen die muur vasgesit. “Ek volg twee riglyne wanneer ek koop,” verduidelik sy. “Elke bord moet mooi wees uit eie reg en moenie meer as R25 stuk kos nie.”

Hoe het Rosemary sulke netjiese vierkante gemaak? “Ek het die blokke met maskeerband gemerk en toe met ’n klein roller geverf. Die geheim agter netjiese rande is om die band stewig vas te druk voor jy verf.”

In sagte fokus

Dié pragtige hoekie bevat al die elemente wat jy nodig het om ’n sagte, blomryke fokuspunt te skep. Die pienk afgewitte buffetkas met blomdetail op die laaie is uitstalplek vir ’n mooi teestel wat nuwe nut gekry het as houers vir vars blomme. Borde met blommotiewe teen ’n donkerpienk agtergrond wat herinner aan rose, petunias, hibiskus en tulpe voltooi die prentjie.

Foto Sunray/magazinefeatures.co.za

Rooiwarm!

In Ilse Smith se huis in Welgedacht het die verftegniek-kunstenaar Sharon O’Callaghan-Marais dié wonderlike fokusmuur geskep om in te skakel by die wit-en-donkerrooi kleurskema in die res van die gang. Sharon het die lieflike blommotief met ’n stensil en verf aangebring – en die ontwerp is nommerpas vir die kas in die Oosterse styl en Persiese mat. Die omringende koel wit mure verseker dat jy nie sommer dié kleur miskyk nie!

Begin met twee stoele ...

Twee stoele met hul oorspronklike stoffering – vintagemark-vondste – het die blommegalery in Pieter Vosloo en JanHarm Vorster se huis in Cullinan geïnspireer. “Ons kan nie ’n geblomde ding weerstaan nie,” sê Pieter. “En al het ons eintlik genoeg blom-dekor in die huis, oorreed ons mekaar gereeld dat dit glad nie die geval is nie!”

Die tafel is gemaak met pote wat hulle op ’n rommelhoop gevind het en ’n blad wat hulle in ’n opbergplek gehad het. Hulle het dit ’n rowwe laag wit EnviroCoat van Paintcor gegee om by die res van die ruimte te pas. 

KONTAK EN VERSKAFFERS

Arabesque 021 424 1234

Beyond Innovation Printing 087 158 1335

Paintcor 011 794 2885

Sharon O’Callaghan-Marais 082 870 8366

Woolworths 0860 022 002