Foto’s Francois Oberholster | Blomme deur Flowerheart

Prêt-à-pot

’n Hele versameling glashouers met blomme, pleks van een sentrale ruiker, is ’n slim manier van mooimaak met wat jy het. Kies houers met interessante vorms – groot en klein, lank en kort – en sit enkelstele of minimale groeperings rooi blomme in elkeen. Hier spog gladiolusse, rooi rose, leeubekkies, Hypericum-bessies en hanekamme bymekaar, met die groenigheid van bloeiende hartjies, katstert en salie vir afronding.

MAAK JOU EIE TERRARIUM

Stroop die blare van ’n paar wilgertakkies af en voer die binnekant van ’n glasfles daarmee uit (’n bietjie water onder in die fles keer dat dit uitdroog). Sit nou ’n klein terracotta-potjie met ’n kruieplant binne-in die glasfles.

’n Liefdespel

Nie alle Valentynsrangskikkings hoef net rooi te wees nie. Speel gerus met kleur – en dit sluit die houer in! “Ek het groen anthuriums, pienk en roomkleurige lisianthus, ligpienk en heldergeel rose, rooi hanekamme, ’n speldekussing en grysgroen lamsoorblaartjies gebruik,” sê Marlize. “Die kleurkombinasie is vars en speels.”

Vir ewig en altyd

Kranse is nie net vir Kersfees nie; die sirkel is ’n simbool van ewigheid en kan maar heeljaar deel wees van jou dekor. Dié een is gemaak van papierblomme (Limonium perezii) – die blomme word mooi droog en behou hul treffende pers kleur. Druk ’n paar helderkleurige linte in die oase vir ekstra detail.

Dans met die rooi rok

Vir ’n prentjiemooi rangskikking wat herinner aan ’n Monetkunswerk gebruik Marlize ’n dramatiese kleurskema – van wynrooi tot pruimpers. Groot, oop tuinrose maak ’n pragtige prentjie saam met angeliere, leeubekkies, tulpe, Hypericum-bessies, scabiosas en selfs ’n pienk orgidee. Oop kolle is gevul met rooi loof van die blompruim, Japanse heilige bamboes en Leucadendron ‘Safari Sunset’, en vir kontras groen olyftakkies en viburnum.

“Ek voeg graag verskillende soorte blomme en teksture saam vir ’n bepaalde effek,” vertel Marlize. “Hier skep ’n blompruimtak aan die een kant en ’n parmantige tulp aan die ander kant balans en beweging, terwyl ’n takkie loganbessies sorg vir tekstuur.”