Foto’s Francois Oberholster
Stilering Marian van Wyk

Vertel ’n storie

Stal jou hartsgoed uit op jou boekrak, soos Rial Visagie en Daniel Swanepoel in hul huis op Robertson gemaak het. ’n Ou naaimasjien wat aan Rial se ma, Letha, behoort het en versamelings Tintin-figuurtjies wat regdeur die huis uitgestal word, gee dié sweefrak persoonlikheid en tekstuur.

Muur tot muur

Adriaan en Rita Louw is kranige selfdoeners en koop nie ’n nuwe boekrak as hulle self een kan aanmekaartimmer nie. Die paartjie het die nodige mate geneem sodat die rak ’n hele muur in hul sitkamer kan beslaan en netjies om die TV-kas pas. Toe het hulle Supawood op maat laat saag by hul plaaslike BUCO op Hermanus, waarna Rita elke rak in die Plascon-kleur New Meadow geverf het.

Vir ons is daar nie iets soos te veel kleur nie! – Rita

Die rakke is by die hoeke aanmekaargesit met kwartrondes, houtlym en skroewe vir ’n kratvoorkoms; dwarsstutte net bo die TV ondersteun die boonste deel. Die nuwe boekrak pas perfek by die ander vrolike meubelstukke in dié ruimte en huisves nou die Louws se boekversameling – selfs ’n paar uit hul laerskooldae!

Foto Greg Cox/Bureaux

Koekeloer!

Karen Roos van die Babylonstoren-wynplaas buite die Paarl het dié pragtige boekrakke vir die gastekothuise op die plaas laat maak. Die geelhoutstruktuur, ontwerp deur Prowell Kitchens, verskaf ’n uitsig op die tuin en laat natuurlike lig by die ruimte in.

’n Boksemdais

Barnie en Karin Louw van Durbanville wou ’n boekrak hê waarvoor hulle nie gou sal moeg raak nie. Ná ’n bietjie navorsing het hulle afgekom op ’n ontwerp wat dié pasgemaakte rak geïnspireer het. ’n Skrynwerker, Ian van Heerden, het bokse van verskillende groottes en vorms uit Supawood gemaak, dit aan ’n rugpaneel vasgeskroef en toe die hele eenheid aan die muur vasgesit. Ons hou van die wisselende dieptes van die bokse – dit skep ’n interessante driedimensionele effek. Mooigoed wat elders in die huis gestaan het, gee ekstra trefkrag tussen die boeke.

So ’n boekrak is ideaal vir ’n kinderkamer, met gunsteling-leesstof maklik bereikbaar en meer gevorderde boeke hoër op waar hulle dit later kan bykom. – DIY Deon

Staan vas

In ons selfdoenghoeroe Deon de Goede en sy vrou, Debbie, se huis in Brackenfell word elke beskikbare sentimeter benut! Omdat hul oopplan-leefarea nie baie muurspasie het nie, het hulle ’n smal muur langs die voordeur vernuftig ingespan vir ’n boekrak. Deon het ses sweefrakke van Suid-Afrikaanse dennehout (50 mm dik x 228 mm breed x 150 mm diep) teen die muur vasgesit met staalstawe en toe die voorkante geverf met Annie Sloan-verf in die kleur Paris Grey. Nou lyk dit net soos boeke!

Kontakte