Foto’s Francois Oberholster, Karl Rogers en Elza Cooper | Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

Twee-twee

Cara (12) en Lisa (10) Senekal deel ’n slaapkamer in hul kleurryke huis in die Paarl (die res van die huis was in November 2019 se Tuis). Dis nie altyd maklik om ’n ruimte vir twee in te rig nie, maar hier is die twee meisies se beddens en werkstasies netjies in balans as spieël-beelde van mekaar. Dis ’n eenvoudige, prettige oplossing en die eenvormige voorkoms werk vir albei. ’n Gesins-vriend het die lessenaars gemaak en ma Lindie, eienaar van Pizzazz Interiors, het die prentjie voltooi met kontemporêre stoele, en sagte meublement en beddegoed met klassieke geometriese motiewe. Sy het ook die geel bedrompe gemaak.

Stoele van Decofurn; beddegoed en sagte meublement van MRP Home


Babablou

Kyla Barnard van Benoni het klein Grayson se pragtige babakamer ingeskryf vir 2019 se Regruk met Flair- kompetisie. Ons hou van die fokusmuur agter die bababed wat sy met fassieplanke beklee het. Die verfkleur is spesiaal gemeng om by ’n kussingoortreksel van Superbalist te pas. “Ek het nog altyd ’n kamer sonder ’n tema verkies, ook vir my seun se babakamer,” sê Kyla. “Wanneer ek ’n ruimte ontwerp, kry ek eers inspirerende foto’s en gebruik dit om ’n inspirasie-bord te maak. Ek is mal oor ’n plaasstyl en dis die voorkoms wat ek in dié kamer wou hê.”

Kussingoortreksels van Superbalist; bababed en wiegstoel van Baby Belle Verfkleur Dulux Niagara Blues 2Foto Celine (073 135 0333)

Elke sentimeter tel

Stacy en Jacques van Zyl het die ruimte in hul seun James se knap slaapkamer ten volle benut met ’n verhewe bed bo ’n speelplek en pakplek weggesteek in die trappe wat daarheen lei. Ná deeglike beplanning het die kreatiewe paartjie besef dit sou meer kostedoeltreffend wees om ’n bed te bestel – pleks van een self te maak – en hul eie stempel af te druk wanneer dit eers op sy plek is. Jacques het die standaard-relings versterk met dikker planke, ’n oulike klimnet van goiingtou gevleg en die raam bo teen die plafon vasgesit sodat die tjokker na hartelus kan spring! Stacy het ’n houtbeits (Novadye in Antique Oak) op die rou hout gebruik. Die speelse ruimte spog ook met ’n fokusmuur in groen bordverf, ’n swaai en ’n mat van kunsgras. Lees meer oor die gesin se projekte op hul blog, sawdustandhighheels.com.

Ons is dol hieroor!

Speelgoed is uit die oog in dié “geheime” laaie.

Bed van Bed and Pine Furniture


Sy eie skilderdoek

Amper elke vertrek in die Tuis-medewerker en -stilis Amanda van Wyngaardt se huis in Randburg het ’n geverfde aksentmuur. In haar tienjarige seun, Angus, se kamer het sy swart bordverf (Plascon Schoolboard Paint) gebruik. “Ek is mal oor teken en ek wil graag dieselfde passie by my seun aanwakker. Dié muur hou hom langer besig as die meeste speelgoed!” sê sy. “En die tema van sy kamer verander natuurlik saam met die tekeninge – dié maand is dit vintage-strokies oor die ruimte.” Amanda sê die waterbasisverf word vinnig droog en is maklik om skoon te maak; sy vee dit net met ’n nat lap af. 

Rooi ligkoord van Modernist; ligtoebehore van Builders; beddegoed van MRP Home; geel deken en mat van Woolworths; kitaar-strooikussing van Ikea; staanlamp van Weylandts

VERSKAFFERS