Foto's: Francois Oberholster

Mat van MRP Home; stoele van Chair Crazy

Kok se koninkryk

Tuis se nutsman, DIY Deon, se hande staan vir niks verkeerd nie. Dié kranige kok onthaal graag, en ’n dooie kol langs die vuurput in sy agtertuin het gesmeek om ’n kreatiewe ingryping.

“Dit het als begin met die onooglike afdak buite langs die skoorsteen van ons binnebraai,” vertel sy vrou, Debbie. Dit was voorheen ’n stoorplek, met Vibracrete sigbaar uit hul kamervenster. “Ek kon dit nie meer verdra nie,” sê sy. Die onbenutte ruimte was perfek vir ’n buitekombuis en kort voor lank het Deon met ’n plan vorendag gekom wat hulle albei gelukkig sou maak.

Glase en skinkbord van MRP Home; plantpothouer van Woolworths

Nou verskans ’n hele muur van ontblote bakstene waarteen braaihout opgestapel is die Vibracrete, terwyl ’n ingeboude kas met ’n sementblad en wasbak werkspasie verskaf.

Die pièce de résistance is die houtbekleding bo die werkblad. Dis gedoen deur laaghout wat vir bekisting gebruik word, in ’n streeppatroon te lamineer. ’n Plafon, ook van laaghout, rond die prentjie af.

So maak jy...

1 Laat saag 18 mm dik laaghout in stroke van 50 mm breed en so lank soos die hoogte van die oppervlakte wat jy wil bedek. (Die hout kom in lengtes van 2,4 m.)

2 Begin nou met die bekleding in die een hoek: Skroef die eerste plank met sy breë sy teen die muur vas. Gaan dan voort deur die planke een vir een aan die vorige plank vas te skroef – deurgaans met die breë sye teen mekaar, sodat die lyntjies na voor wys.  

Die kasdeurtjies is van dieselfde laaghout gebou, met ronde gate pleks van handvatsels. Deon het dit swart geverf vir kontras met die houtbekleding op die muur.

Dis so lekker om bêreplek te hê vir al ons potjies, buiteskinkborde en braaigoed. – Debbie

Slim plan!
Deon het ’n ongemaklike holte in die hoek langs die binnebraai se agterkant bedek met ’n deurtjie wat in dieselfde kleur as die mure geverf is – en siedaar, geheime pakplek!


Die Craddocks se dik kaggel- rak rus op stutte van gegote yster. Die posstempels op van die houtplanke is aangebring met ’n stensil en verf.

Stensil van Chisel & Chalk

Druk jou stempel af

Amanda en Bobby Craddock is bekend vir hul selfdoenvernuf (ons het hul vorige kombuisprojek in Verf Dit van 2015 gewys). Dié twee het intussen getrek, en ná net vier maande in hul nuwe huis wou hulle die braaistoep ’n bietjie flair gee – op ’n knap begroting. 

“Die stoep was ’n warm gat sonder persoonlikheid,” vertel Amanda. As teenvoeter vir die hitte het hulle Isoboard-panele onder die deursigtige dakplate aangebring en ook belê in rolblindings teen die fel middagson.

’n Tikkie weelde soos dié swierige kandelaber skep lieflike kontras in die aardse ruimte! Kandelaber van Plan B Vintage 

Toe kon hulle die braaikaggel takel. Bobby het die goedkoopste nuwe ruwe hout wat hy kon kry in die regte lengtes gesaag en ná ’n bietjie skuurwerk die oppervlakke rondom die braaiplek daarmee beklee – party horisontaal, ander vertikaal geplaas. Om dit ’n meer ingeleefde voorkoms te gee het hy regte treinspoorboute se koppe afgesny en dit met No More Nails teen die bekleding vasgeplak. Die posstempels was Amanda se handewerk. Nadat sy dit met ’n stensil en ’n bietjie swart verf aangebring het, is dit weer geskuur. En nou lyk dit of die planke lang stories het om te vertel!

Ek is ’n versamelaar en vrek oor ’n geroeste ding vol potensiaal. Ons herwin graag. – Amanda
VERSKAFFERS

Chair Crazy

Chisel & Chalk 021 976 0444

MRP Home 0800 212 535

Plan B Vintage 021 801 9642 

Woolworths 0860 022 002