Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper • Stilering Marian van Wyk en Suretha Jansen van Rensburg

’n Oopplan-oplossing

Al was Dalene en Marius Meyer gaande oor die nuwe oopplankombuis-en-leefareas in hul huis in Midstream Estate, Centurion, het hulle besef hulle kort ’n buigsame oplossing vir dié kere dat hulle wel die ruimtes wou afbaken.

“Toe laat ons ’n staalraam-skuifdeur insit. Só kan ons die geraasvlakke tussen die verskillende areas beheer; in die somer kan ons die oop ruimte geniet en in die winter die twee ruimtes skei om ’n knus atmosfeer te skep,” sê Dalene. “Ons het ’n skuifdeur gekies, want dit lyk of dit verdwyn wanneer dit oop is.”

Ons is dol hieroor!

Die tafel van rou hout staan op wiele en kan maklik van die eiland weggeskuif word tot waar daar aansitplek nodig is.

Staal en glas geïnstalleer deur JM Steel Construction

Glashelder

Toe die skrywer Biddi Rorke in 2017 by haar huis in Vishoek intrek, was die studeerkamer net links van die voordeur met ’n soliede muur van die ingangsportaal geskei. Nie net het dit die ruimte afgesonder laat voel nie, dit het die eetkamer en aangrensende kombuis ook taamlik donker gemaak.

Biddi wou ’n oop, lugtige gevoel skep, maar steeds privaatheid hê in die studeerkamer, wat sy as tuiskantoor ingerig het. Daarom het sy die boonste helfte van die muur laat uitbreek en die opening toegemaak met treffende staalraamvensters. “Dis wonderlik dat ek nou die see van oral in my leefruimtes kan sien,” sê Biddi. “Daar is ook soveel meer natuurlike lig in die eetkamer.”

Ons is dol hieroor!

’n Hout-buffetkas uit ’n rommelwinkel is in ’n gestreepte spogstuk omskep deur Paintiques. Biddi het die dennehoutvloere reg deur die huis ’n treffende blou (Plascon Zenith Teal) geverf.

Venster gemaak en geïnstalleer deur Jambmax 

Kontemporêr sjiek

Voor Christine en Edwin Capendale hul huis opgeknap het, was die ou hout-stapeldeure wat die leefruimtes op die boonste verdieping van die studeer- en slaapkamers geskei het, in ’n swak toestand – die hout was verweer en die deure het moeilik oop- en toegemaak. Maar Christine was nie gereed om die handdoek in te gooi nie en het die skarniere, slotte en hefbome met blinknuwes van koper vervang, waarna sy ’n vars laag houtskool verf aangewend het om met die houtvloere te kontrasteer.

En sy’s gaande oor die resultaat! Die deure help met geraasbeheer tussen die leefareas en slaapkamers en dra by tot die rustige, kontemporêre gevoel van die huis.

Edwin werk van die huis af en het besluit om ’n vertrek met ’n boogdeurgang uit die gang as tuiskantoor in te span. Omdat daar nie ’n deur na dié ruimte was toe die Capendales ingetrek het nie, het hulle American Shutters laat pasmaak vir die opening.

“Ons wou iets hê wat veilig is en privaatheid bied. Maar die installering is ook pragtig – die hortjies was die perfekte oplossing,” sê Christine. Ottoman van Pierre Cronje; mat van Hertex; plantstaander van Weylandts; die kas was ’n tweedehandse vonds van ’n antiekwinkel

Dis in die detail

Die American Shutters-deur pas netjies in die boogdeurgang.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS