Foto's Francois Oberholster en Justin Patrick | Stilering Marian van Wyk

Pak ’n legkaart

Skep ekstra kleur op jou tafel met ses vinielplekmatjies wat jy ook soos ’n legkaart bymekaar kan sit om ’n treffende blommotief te vorm. Die plekmatjies is hittebestand en dus ideaal vir warm oondskottels. Jy kan jou eie motief, kleur en grootte laat druk en bestel soveel jy wil (minimum bestelling van ses).
Legkaartplekmatjies van De Waal Art

Foto: Francois Oberholster Tafeldoek van Feel Good Interiors; tafel van Weylandts; perspeksstoele van Patio Warehouse; ander bykomstighede behoort aan die huiseienaar

Feestelike tafel

Vier die nuwe jaar met ’n romantiese wit kanttafeldoek, sonder dat jy jou heelaand hoef te bekommer oor rooiwynvlekke. Dié vinieltafeldoek in Lizette Botha se huis op Stellenbosch kan bloot met ’n nat lap afgevee word – slim, nè! Dis ewe geskik vir binne en buite, en boonop spotgoedkoop teen R295.
Tafeldoek van Feel Good Interiors; tafel van Weylandts; perspeksstoele van Patio Warehouse; ander bykomstighede behoort aan die huiseienaar

So mooi!

Lizette het die karaktervolle kas jare gelede by ’n tweedehandswinkel in Kalkbaai raakgeloop; die turkoois verf wat plek-plek afdop is deel van sy sjarme. Die kas is gemaak deur die klavierbouers Breyer Y Porfirio in Argentinië en is deur die jare aangepas en versterk. Een spieël het ’n datum van 1950 agterop, maar niemand weet hoe oud dié apploustrekker regtig is nie.

Met sy fyn kantwerk skep die tafeldoek ’n outentieke gevoel, want dit lyk soos iets uit my ouma se trousseau-kis! – Lizette
Foto: Justin Patrick Viniel-teëlplakkers in Vintage Moroccan Blue-ontwerp van Hope vol Hoop; lap van Skinny laMinx; waterkraffie van MRP Home; skinkbord van Woolworths

Marokkaanse geur

Toe Chanelle Booysen van Durbanville dié Marokkaanse ontwerp toevallig op Facebook sien, het sy dadelik geweet dis die perfekte “muurpapier” vir haar braaikamer. Boonop kon sy die vinielvelle van 30 x 30 cm eenvoudig in blokke of stroke knip en self plak. “Ek was al so moeg vir bouers en kontrakteurs dat ek nie kans gesien het om nog iemand uit te roep vir die plakwerk nie,” vertel sy. Die vinielplakkers is stoom-, spat- en hittebestand – die vuur se hitte sal dit dus nie laat smelt nie.

Viniel-teeëlplakkers in Vintage Moroccan Blue-ontwerp van Hope vol Hoop; lap van Skinny laMinx; waterkraffie van MRP Home; skinkbord van Woolworths

Foto: Heidi van der Westhuizen

Blou refleksie

’n Versameling spieëls teen ’n muur bly warm nuus. Heidi van der Westhuizen van Heidi J Design meng en pas perspeksspieëls en vinielplakkers op seshoekige blokkies vir ’n treffende fokuspunt. Die spieëls kom in stelle van tien, terwyl die vinielblokkies los te koop is (met pryse vanaf R20 elk ’n ware winskopie!). Omdat die houtblokkies veertjielig is, kan dit bloot met iets soos alkant-plakband of Velcro Stick On Tape teen die muur vasgesit word. Dit kan in enige vorm, grootte en ontwerp bestel word – veral ou skilderye en kinderprente is tans gewild, sê Heidi.

Foto: Francois Oberholster Tafeldoek van Feel Good Interiors; skinkbord-kuns deur De Waal Art; ander bykomstighede behoort aan die huiseienaar

Tot jou diens

Moenie sommer daai ou skinkbord in die vullisdrom gooi nie. Stuur die mate vir De Waal Art en hulle druk vir jou ’n vinielplakker met ’n motief van jou keuse wat jy op jou skinkbord kan plak. Trek eenvoudig die papier aan die agterkant af en plak dit op – geen gom of seëlaar is nodig nie.

Foto: Francois Oberholster Vinielteëls van Hope vol Hoop

Treffende eenvoud

Ses vinielteëls (150 x 150 mm elk) teen mekaar geplak is al wat nodig is om detail te skep in ’n andersins saai badkamer. Dié Delft-ontwerp is baie gewild en jy trek bloot die rugkant af en plak dit teen die muur! Omdat dit waterbestand is, is dit perfek vir die badkamer
Vinielteëls van Hope vol Hoop

Foto: Francois Oberholster Vinielplakkers van mywalltatoos.com; skapie van Alles wat mooi is; mat van MRP Home; lapmandjies van Zana Products; muurhorlosie van cleverlittlemonkey.co.za; beertjieprent, hasiesak en wimpers van littlelovekids.com

Ken jou naam

Met die inrig van haar tweeling-seuns se babakamer was dit vir die Tuis-medewerker Beatrice Moore-Nöthnagel belangrik om elkeen se naam prominent uit te stal. “Ek het in een van Sam Scarborough van Kids Décor se boeke gelees dat kinders van kleins af hul eie identiteit moet ontwikkel en daarom is dit ’n goeie idee om hul name of voorletters in die kamerdekor te gebruik,” vertel Beatrice. “Ek wou seker maak elkeen van dié twee het sy eie plekkie. Groot vinielplakkers met hul name was die perfekte oplossing, ook om die saai onderkant van ’n gewone houtbed op te vrolik. Almal dink dit is met die hand geverf!”

Wenk In ’n monochroom kleurskema soos hierdie is dit detail en tekstuur wat trefkrag gee – die sagte Dove Grey-verf van Dulux bied ’n goeie agtergrond vir die wit driehoekies (ook vinielplakkers) en skep ’n kontemporêre voorkoms saam met die houtelemente en diertjie-dekor.

Foto: Francois Oberholster

Kleurvolle badkamer

Moeg vir daardie saai wit voorkoms in jou badkamer, maar nie geld vir nuwe teëls nie? Vinielplakkers is ’n sakpasmanier om ’n splinternuwe voorkoms te verkry – sonder veel moeite. Vir Herman en Tiene Fourie van Sandbaai was dit die perfekte oplossing om die ou teëls bo hul badkamer se wasbak te vernuwe. Hope vol Hoop se Pink Splendour-vinielteëls het dié dooie hoekie dadelik nuwe lewe gegee. Die “teëls” is bo-oor die bestaande muurteëls aangebring. Dis waterbestand en hoef nie geseël te word nie.