Vir lekker tafelkuiers

’n Bankie is die maklikste manier om die beskikbare sitplek langs ’n lang eetkamertafel ten beste te benut – daar’s altyd plek vir nog iemand en g’n stoele wat onnet uit gelid staan nie! Maar een lang bank kan ’n gesukkel wees met die in- en uitskuifslag. Die Beinart-gesin van Kaapstad se oplossing was om twee korter, identiese bankies by Wiid Design te laat maak. Hulle staan netjies teen mekaar, maar kan maklik wegskuif as ’n gas wil opstaan.

Ons is dol oor
Die kombinasie van stoele en bankies langs die ontwerper James Mudge se tafel.

Hartsake

Toe sy moes sê watter kleur haar speelkamer se deur moet wees, het klein Anri Human (7) van Durban dadelik geel gekies. Sy het ook gevra vir ’n hartvormige venster om lig in te laat. Pa André het ’n figuursaag gebruik om ’n hartvorm uit die deur te saag en glas daar ingesit om die prentjie te voltooi. Te oulik!

Beenaf

Toe die Beinarts na ’n nuwe huis trek, wou hulle nie afskeid neem van hul ou eetkamertafel nie. Ma Liat het toe met ’n vernuftige plan vorendag gekom: Een hoek van die tafel is met poot en al weggesaag sodat dit deel van die nuwe kombuiseiland kon word en só steeds ’n belangrikde deel van hul lewe kan wees. “Dié tafel is die middelpunt van ons huis,” sê Liat.

VERSKAFFERS