Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Met liefde

Oor die jare het Rosemary Barker die fasade van haar huis uit die 1890’s in Simonstad stuk-stuk verander. Om hulde te bring aan die Victoriaanse era het sy baie van die oorspronklike elemente soos die skuifraam-vensters (twee nog met die oorspronklike glas) behou, en nuwe hortjies laat maak om dié te vervang wat verweer het en verwyder moes word.

’n Teerstrook voor die huis is opgegrawe en vervang met groenigheid soos roosmaryn-, laventel- en wildeboegoeplante.

Geïnspireer deur die wye hemelruim en die see het Rosemary die wit huis se buitekant hier en daar met ’n spatsel koel blou opgehelder. Te mooi!

Ons is dol hieroor!

Pasgemaakte hartvormige broekiekant van African Forge verleen ’n bietjie pret aan die stoep se sinkdak.

’n Toevlug

Die diefwering voor die oorspronklike skuiframe skep die voorkoms van kothuis-vensters. Aan weerskante van die voordeur het Rosemary die woorde vir vrede en hoop in verskillende tale vertikaal van bo na onder geverf.

Ons is dol hieroor!

’n Houtbankie is teen die muur vasgesit, met ’n ou kopstuk as rugleuning. ’n Vriend het die engelvlerke vir Rosemary gemaak. “Ek het heelparty engelvlerke in en om my huis; dit verleen ’n gevoel van vertroosting en pret,” sê sy. Verfkleur Midas Envirolite Midalux 240 in Silvery Sea Fayre

Al die regte kurwes

Rosemary het ’n motorhuis – hoofsaaklik vir pakplek – langs die huis laat aanbou met ’n dek bo-op. Sy het die ou kiaat-deure by Ross Demolition gekry.

Voor die garage is ’n sementvloer gelê en aangesien dit net pakplek is, hoef die vloer nie voertuie te hanteer nie, net voetverkeer.

“Ek het ’n onderlaag (Midas Masonry Primer) aangewend en terwyl ek besig was om netjiese vierkante vir die afwerking uit te meet, stap ’n vriend verby en stel voor dat ek liewer ’n patroon aanbring,” sê Rosemary. “Toe lê ek ’n tuinslang neer en trek gekurfde lyne van noord na suid oor die hele inrit, en daarna van oos na wes om daardie lyne te oorkruis en die swierige fatsoene te maak, voor ek dit met verf ingekleur het.”

Om dié oppervlak skoon te hou spoel Rosemary dit eenvoudig af met seepwater.

VERSKAFFERS