Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper • Stilering Dina Venter, Marian van Wyk, Amanda van Wyngaardt en Shelly Bergh

Perfekte pasmaats

Tania de Clercq wou graag pakplek skep vir al die onooglike braaibykomstighede soos ’n tang en vuuraanstekers, daarom het sy kaste aan weerskante van die binnebraai in haar Brackenfell-huis laat installeer. Om te pas by die hout wat in die middelste deel gebêre word, is houtstompies in skywe gesaag, waarna dit teen die kasdeure geplak is.

Dis in die detail
Om die tekstuurryke voorkoms verder te versterk het Tania die pleister teen die muur agter die kaggel laat afkap om die bakstene daaronder te ontbloot. Die oorspronklike boog bo die omranding is swart geverf om die fatsoen te beklemtoon en die ruimte verder af te baken.

Hanglamp van Candelabra Designer Lighting; verfkleur om die kaggel is Paint & Décor Jonkershoek

kaggel

In die hoek

Die trap in die stilis Amanda van Wyngaardt se meenthuis in Randburg is meer as 20 jaar gelede gebou. “Ek veronderstel dis ’n ruimtebesparende ontwerp,” sê sy. “Die vorige eienaars het die gaskaggel laat pasmaak by Heatwave om perfek in die trap te pas – daar was nie ’n gerieflike staanplek daarvoor in die leefarea nie. Dis wonderlik, want dit maak die onderste verdieping én die solderruimte daarbo warm.”

Amanda het die dubbelhoë muur agter die kaggel versier met Cole & Son- plakpapier (Apex Grand in Teal) van St Leger & Viney. “Dis my gunstelingmuur in die huis – dit het soveel trefkrag en ek raak nooit moeg daarvoor nie!” sê sy.

Strooikussing en hasies op die kis van Gonk

Tot heel bo

Toe die kunstenaar Gabrielle Raaff by dié huis in Lakeside buite Kaapstad intrek, het sy haar hart verloor op die 2 m breë kaggel in die sitkamer. “Die vorige eienaars het slim ontwerp-idees in die huis ingespan. Die kaggel met pakplek vir hout aan weerskante is nie net nuttig nie, maar ook iets vir die oog,” sê sy.

Die ontblote skoorsteenpyp van vlekvrye staal loop deur die plafon en die slaapkamer direk daarbo tot ver bo die huis se grasdak uit, in pas met veiligheidsregulasies. “Wanneer daar ’n vuur brand, maak dit regtig die hele huis warm – tot bo in die oopplan-slaapkamer.”

Mat van Hertex; geraamde kunswerke bo die kaggel deur (van links): Medina Morphet, Jo O’Connor en Lee-Ann Ormandy-Becker; wit vaas van Lee-Anne Ormandy-Becker; liggroen houer van Christo Giles Stoneware and Porcelain Pottery

Magiese mosaïek!

Sonja Wray het haar vriendin Ronnie Biccard, ’n kunstenaar, vrye teuels gegee om die kaggel in haar huis in Kommetjie met ’n besonderse mosaïek te versier. Sy wou hê dit moet by die res van haar huis met sy “Magiese Marokko”-tema inskakel. “Ek het heelwat van Ronnie se kunswerke (soos Butterfly Blush bo die kaggel) en wou iets hê wat haar ander skilderye in my huis sou komplementeer,” verduidelik sy.

Sonja het die blou verf teen die muur agter die kaggel spesiaal by Midas Paintsmiths laat meng sodat dit by haar gunsteling-blou in die mosaïek pas.

In klip gegiet

Frans en Dina van Wyk van Dullstroom het hul dogter, die binneversierder Dina Venter, gevra om hul sitkamer aan te pas – met die voorwaarde dat sy soveel moontlik van die rooigebeitste hout en natuurlike klip, elemente waaroor hulle gaande is, behou.

Vir die kaggel het Dina titsels blou bygevoeg om die omringende rooi en bruin tone te verfris. Sy het ook ’n skildery op die mantel vervang met ’n groot spieël om lig te weerkaats en die omringende dekor te weerspieël.

“Wanneer jy by die huis instap, is die kaggel een van die eerste dinge wat jy sien,” sê Dina. “Dit skep daardie knus rooiwyn-by-die-kaggel-gevoel; boonop gooi die spieël lieflike lig vanuit alle hoeke en beklemtoon dit die vertrek se dekorskema pragtig.”

Vir ekstra warmte in die oop dubbelvolumeruimte is daar ook ’n smeulkaggel. “Dié is beslis meer doeltreffend; wanneer dit regtig koud is, steek ons die kaggel ook aan omdat dit soveel meer atmosfeer skep,” sê Dina.

Ons is dol hieroor!

Openinge in die muur laat tonne lig in en bied ’n onbelemmerde siglyn van die eetkamer na die leefvertrek

VERSKAFFERS EN KONTAKTE