Foto’s Sally Chance, Suné Esterhuizen, ER Lombard en Henrique Wilding • Stilering Suretha Janse van Rensburg, Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

Wilde wêreld

Kara Human het die ingang van haar huis in Durban trefkrag gegee met lewendige plakpapier (Ashford Tropics van Hertex) teen die trapmuur. Ons is dol oor die tekstuur wat dit aan die ruimte verleen, asook die vorm wat dit aanneem danksy die trap. Die kas onder die trap is in ’n bêreplek vir wyn omskep – nog ’n interessante fokuspunt!
Trapreling van Iron Art

Iets uit die verlede

Jare gelede was daar heelparty huise op Stilbaai wat geheel en al met sinkplate gebou was. “Kleibakstene en sement was in die vyftiger- en sestigerjare nogal moeilik bekombaar,” sê Manfred Vietze. Hy en sy vrou, Louise, wou iets van die geskiedenis in hul eie huis behou en het besluit om ’n fokuspunt in hul badkamer te skep.

Hulle het toe sinkplate behandel met ’n roeswerende onderlaag (Duram NS4 Anti-Rust Coating), dit bottergeel geverf met PVA-verf en toe teen die klipmuur vasgeskroef. ’n Strook Oregondennehout bedek die skerp bo-rand en dien ook as uitstalplek vir die Vietzes se versameling handgeverfde keramiekteëls. Die wasbakkas is gemaak van ’n ou tafel wat die vorige huiseienaars agtergelaat het. 

’n Ou bliktrommel waarin meel of rys jare gelede gebêre is, huisves nou die toiletpapier.

Gebou om te hou

Nerine Visagie wou aanvanklik groot teëls teen die mure van haar nuwe badkamer in haar huis in Craighall, Johannesburg, hê. Maar toe daar heelwat sement oorbly ná haar opknapprojek, het sy besluit om dit vir dié indrukwekkende “panele” van 1,2 x 1,2m in te span. Nadat sy nog ’n sementlaag aangewend het, het sy met ’n stok en “hope geduld” die lyne in die nat sement getrek en “boutmerke” gemaak – nou lyk dit soos gewapende beton!

Nadine Prinsloo van Cemcrete verduidelik hoe jy dié effek kan verkry:

1. Wend ’n basislaag CemPlaster (sowat 5mm dik) aan; trek die lyne en maak die boutmerke terwyl dit nog nat is.

2. Opsioneel vir ekstra tekstuur Sodra die pleister droog is, wend ’n 2,5 mm-laag CemCote in die kleur Concrete Grey aan met ’n kwas of troffel.

3. Maak die mure waterdig met Cemcrete se Concrete Sealer in Gloss of Super Matt.

Slaap in die park

Geïnspireer deur haar liefde vir die stad New York het Shawnee Hiten besluit op plakpapier met ’n Central Park-tema vir haar slaapkamer in haar ouerhuis op Somerset-Wes. Ons is dol oor die diepte en gevoel van ruimte wat die vollengte-prent aan die kamer verleen. Die meubels van natuurlike hout herinner aan parkbankies en die bome in die park, verduidelik Shawnee (21).
Binneontwerp en plakpapier deur Dear Zania Interiors; deken van Weylandts

VERSKAFFERS