Foto’s Greg Cox en Francois Oberholster  

Opblaas-flaminke van Pick n Pay; handdoeke van Mungo Design; plakkies van Veldskoen

Skitterende oase

Jy kan jou verbeel jy stap onverwags by ’n medina in Marokko in, maar dié eksotiese stervormige swembad is in die binnehof van die sjarmante Nooitgedacht Country House buite Swellendam. “Die vorige eienaars het die huis en swembad 12 jaar gelede gebou,” sê die huidige eienaar, Danielle de Wet. “Ons het hier gewoon toe ons die plaas vyf jaar gelede gekoop het, maar ons het dit sedertdien in luukse selfsorg-eenhede omskep.”

Die huis is om die binnehof gebou en baie van die leefvertrekke en slaapkamers maak hierop oop. Dit is ’n intieme ruimte waar gaste kan ontspan sonder om deur die buitewêreld gepla te word. “Wanneer dit te winderig op die voorstoep raak, is die binnehof die ideale kuierplek,” sê Danielle. As jy ook droom van ’n Marokkaanse styl, laat hierdie aardse palet met sy sagte terracotta, blou en groen jou inspireer.

Sterre aan jou voete

Charles en Candice Nortje se buitestort in Kommetjie (sien hul hele huis hier) is nie net pragtig nie, dis ook prakties. Nadat hulle strand toe was, spoel die hele gesin hier af – die tweevoetiges onder die stortkop terwyl die viervoetiges met die handstort skoongespuit word (dis ook waar hulle hul bad kry).

Die landskapontwerper Paul Paarman van Soul Gardens het ’n betonvoetstuk neergesit met ’n vlak voortjie reg rondom – dié is toe met klippies gevul sodat stortwater weer in die grond kan wegsyfer. Vir die kompas het hy ’n kunstenaar se hulp ingeroep: Theo le Roux van Mural Maniac het die ontwerp met Plascon se akriliese PVA in die kleur Morning Fog op die basis geverf. Daarna is dit met Midas Earthcote Acrithane geseël.

Gids in die donker

Die oudjoernalis Terry de Vries het sedert 1997 al meer as 300 labirinte gebou – hier en oorsee. Toe sy in 2018 vir ’n naweek in Barrydale in die Klein-Karoo was, het sy dié juweel ontdek. Soos die geluksgodin dit wou hê, was die grond waarop hierdie reuse-labirint lê te koop – en kort voor lank was Terry tot haar vreugde die eienaar van hierdie pragstuk.

“Die lieflike leiklipboog en die ronde muur om die labirint het my dadelik veilig laat voel – dit was ’n baie diep ervaring,” vertel Terry. Sy woon op ’n eiendom daar naby wat sy as Kamala Retreat House bedryf.

Die afmetings vir hierdie labirint wat sowat 16 m in deursnee is en volgens die Chartres-model gebou is, is uitgewerk deur wyle Peter Frazer. (Hy het een van die eerste labirinte in Suid-Afrika in 1998 op ’n plaas in Lemoenshoek buite Barrydale gebou.) Terry se labirint is in 2000 van rooskwarts en plaaslike leiklip gebou vir die vorige eienaar, Liz Brom.

Wanneer jy deur die klipboog stap, word jy verwelkom deur ’n dertienpuntige rooskwartsster, nes die byna onsigbare ster in die labirint by die beroemde Chartres-katedraal in Frankryk. “My labirint is ’n replika van daardie beroemde een,” sê Terry trots.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE