Stilering Marian van Wyk | Foto’s Francois Oberholster

Vir ’n sonstraal

Irma Herbst van Onrus het ’n fraai venster wat sy present gekry het in haar grensmuur laat inbou. Die klimop wat sedertdien die muur rondom toegegroei het, sou maklik donker kon vertoon, maar die halfmaan ruitjies laat wel die goue sonstrale deur. Twee boomornamente teen die muur onder die venster word ook gereeld oopgesnoei om die prentjie af te rond. Danksy die hoë posisie en troebel glas maak die venster nie inbreuk op Irma óf haar bure se privaatheid nie. Boom-ornamente van Garden Bleu

Twee lappies baba-se-trane geniet die skaduryke, nat kolletjie agter die deur en versag die grys plaveisel. Bedrukte doek van The Small Gallery

Vrou in die tuin

Die ou staaldeur voor Irma se huis kom uit ’n tweedehandswinkel. Met ’n spieël wat na buite wys – pleks van deursigtige glas – in die raam bo, het die agterkant nie mooi gelyk van die huis se kant nie. Maar toe kom ’n vriendin, Elmarie de Waal, met dié stuk Renaissance-kuns op doek daar aan. En Irma het dadelik geweet waarnatoe met dié Madame. Saam het die vriendinne die doek sorgvuldig op die deur geplak en met ’n découpage-kraakeffek behandel om dit teen wind en weer te beskerm. Bedrukte doek van The Small Gallery

Strooikussings van Makietie Linne; planthouers van The Pink Geranium; rakke deur O’Grady Projects

Groen gordyn

Janine O’Grady, die eienaar van Makietie Linne in die Paarl, het die diefwering in dié sithoekie in haar kombuis ingespan vir die allermooiste vertikale tuin. “Ek het die planthouers by ’n kwekery gesien en die eienaar het my gehelp om die regte plantjies te kies,” vertel Janine. “Die houers kan aan- en afgehaak word en buitentoe geneem word soos nodig vir natmaak of rondskuif.”

Die rak bo die venster benut die huis se hoë plafonne ten beste – dis die perfekte uitstalruimte vir haar versamelings blikke en mandjies wat te groot is vir die kombuisrakke wat haar man, Michael, gemaak het. “Dit help as jou man handig is!” sê Janine en lag.

Tussen blomme

Klein Beth-Lilly Thompson (10 maande) van Malmesbury se kamer vertel ’n storie. Dit was oorspronklik haar ouboet Cilliers se kamer wat die verfkenner Sharon O’Callaghan vir hom met vlootblou en wit strepe versier het. Toe dit ’n babakamer word, het ma Lorette en pa Ernest weer Sharon se hulp ingeroep met die oog op ’n tuintema. “Nie die gewone babapienk vir dié dogtertjie nie!” vertel Sharon. 

“Ons het besluit om die strepe te behou en die kamer te verfris met massiewe, eenvoudige blommotiewe. Dit is iets wat Beth nog lank plesier sal gee.” Sy het die ontwerp met bordkryt geteken en toe met haar kwas “ingekleur”. Lorette sê hulle is absoluut mal daaroor. “Ek dink nie ek sal ooit ophou verander en mooimaak aan my huis nie!”

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Garden Blue 011 888 4734

Makietie Linne

O’Grady Projects 082 870 0503

Sharon O’Callaghan 082 870 8366

The Pink Geranium 021 884 4313

The Small Gallery 083 261 1659, elmariedewaal@hermanus.co.za