Foto’s Francois Oberholster en Sally Chance

Van bo tot onder

Toe sy twee jaar gelede haar kombuis opknap, het die Kaapse ontwerper Heidi van der Westhuizen klassieke wit kaste met houtblaaie gekies. Vir trefkrag met dubbele oemf! het sy toe haar eie vinielteëls in eklektiese ontwerpe nie net op die spatpaneel agter die stoof nie, maar ook teen die skopplaat onder die kaste geplak. “Viniel is lekker omdat ek dit gereeld kan afwissel,” sê sy. “Dis nie vir ewig nie!”

Swart op wit

Jeanette Oosterhuis van Milnerton beskryf haar styl as klassiek en sê sy verkies ’n neutrale kleurpalet van grys, wit en swart vir haar huis. Toe sy ’n stylvolle badkamer op ’n knap begroting moes inrig, het haar ma plakpapier van De Waal Art pleks van teëls voorgestel.

“Die muur het nou presies die impak waarna ek op soek was, en dis boonop wasbaar,” verduidelik Jeanette. “Ek het die ontwerp gekies en saam met Lecia de Waal gewerk om die plakpapier aan te pas (dis eintlik ontwerp vir spatpanele in die kombuis) tot ’n patroon wat elegant en treffend is.”

Skuins boontoe

Jeanne en Niel Oets van KwaZulu-Natal moes hul inrit teen ’n helling aanpas om die grond te bewaar en dreinering toe te laat. Pleks van gewone, soliede plaveistene of ’n sementblad het hulle patroonblokke van beton plat op die oppervlak gelê. Daarna het Jeanne dwergmodogras versigtig in elke gat geplant – ’n uitstekende keuse omdat dit nie hoër as 10 cm groei nie. ’n Jaar later het dit mooi toegegroei en ’n treffende, geharde groen tapisserie gevorm wat enige soort verkeer kan hanteer.

“Die idee is dat dié laeonderhoudplante mettertyd soos ’n grasperk met ’n subtiele patroon moet lyk,” verduidelik Jeanne. “Ek het die gras doelbewus diep geplant sodat dit net bo die stene sal uitloer. En omdat dit nie gesny hoef te word nie en min onderhoud vra (hier reën dit oorgenoeg), hoef ons net af en toe onkruid uit te trek,” sê sy. Diva die bassethond lyk heel ingenome met die vordering! 

KONTAKTE
  • Heidi J Design 082 413 3110
  • De Waal Art 021 790 9120, dewaalart.com