Foto’s Henrique Wilding, Francois Oberholster en Elsa Young/Frank Features

Speel jou kaarte 

Muurkuns vir ’n slaapkamer laat baie mense kopkrap, want hoe skep jy ’n rustige luim sonder dat dit vervelig is? Kies jy muurpapier vir tekstuur, ’n rits kleiner werke of een groot stuk met trefkrag?

In die Blou Disa, ’n tweeslaapkamer-kothuis op die Johannesdal 1207-landgoed naby Pniel buite Stellenbosch, pryk ’n karaktervolle ou wêreldkaart teen die muur. Die kaart is ’n vintage-vonds wat Dané Erwee, een van die eienaars, reggemaak het voordat dit sy ereplek gekry het.

“Die grootste aantrekkingskrag vir my was dat die papier so oud is, dit lyk omtrent soos lap,” verduidelik hy. “Ek het die ottoman oorgetrek met ’n versameling tapisserieë wat ek bymekaargesit het omdat die seilskepe daarop met die kaart gesels. Trouens, die ottoman het eers tot sy reg gekom toe die kaart bygekom het.” 

In breë trekke 

In die reuse-bad-en-aantrekkamer in die Waterlelie-suite by Johannesdal 1207 pryk ’n yslike vioolblaarvy (Ficus lyrata) in ’n pot teen die rand van die bad. Dié hemelbesem vorm saam met ander potplante ’n effense skerm wat areas help definieer in die oopplanruimte. 

“Met so ’n groot badkamer het dit net sin gemaak om die ruimte met plante te vul,” sê Dané Erwee wat die binne-ontwerp en stilering saam met René Slee behartig het. Nog ’n plan met skaal in jou dekor is ’n breë kleurband (soos die ligpienk strook hier) vloerlangs rondom die hele vertrek. Dit werk veral goed saam met ’n hoë plafon. 

Hart van die huis 

Die argitek Johann Slee en sy vrou, René, se kombuis is oudhede-snuffelaars se droom: Pleks van ingeboude kombuiskaste het hulle ’n versameling groot ou meubelstukke gekies. Die middelpunt van die kombuis is ’n reuse-snyerstoonbank wat René reeds ’n paar jaar voordat hulle die huis gebou het, by Piér Rabe Antiques gekoop het met die wete dat sy eendag nut daarvoor sou kry.

“Intussen het ek dit aan vriende van ons geleen om as ontvangstoonbank in hul winkel te gebruik,” vertel sy. Maar uiteindelik het dié meubelstuk die lengte van hul nuwe kombuis bepaal. “Die ander meubels in die vertrek kom al ’n lang pad met ons saam. Johann het gesorg dat daar genoeg muurspasie is sodat alles kon inpas.” 

Danksy ’n versteekte opwashoekie en ’n lekker groot spens was baie pakplek in die kombuis nie ’n voorvereiste nie. Kombuis- gereedskap is ook uit die oog in groot, diep rakke onder die toonbank. René sê die kombinasie van natuurlike kleure en teksture is nie noodwendig vooruit beplan nie: “As jy hou by die goed waarvoor jy lief is, maak dit uiteindelik ’n prentjie.”

Dis in die detail
’n Aluminiumhortjie agter die stoof is nie net daar vir beveiliging nie, dit hou ook die laatmiddagson uit die kombuis. “Mens kan die venster oopskuif en die hortjies sluit, dan laat dit steeds lugbeweging toe,” verduidelik René.
Ons kombuis voel en lyk soos ’n verlenging van die leefvertrek, nie soseer soos ’n kombuis nie. Nes ons dit wou hê. – René

Die Slees het dié marmerwasbak destyds by Gilles Botbyl gekoop en op die snyerskas laat installeer.

Kuns voor die kassie

Johann Slee kitchen, stoep, rock cladding, pool, v
Drukwerk deur ArtLab; blinding gemaak deur Somerset Blinds Stilering Cornel Dunn

Sonette Barnardt van Somerset-Wes steek haar platskerm-TV weg met ’n rolblinding gemaak van een van haar eie skilderye wat sy op hennep laat druk het. “Ek het die lap na ’n plaaslike blindingplek geneem en hulle het die uitdaging aanvaar om vir my ’n rolblinding daarmee te maak!” vertel sy.

 Die skildery rol af tot sy volle vierkantige glorie en die donker verfkleur teen die muur daaragter dra verder by tot die naatlose kamoeflering. Die huis het ’n aparte TV-kamer en Sonette wou nie hier ook ’n TV as fokuspunt hê nie. 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE