Lig van Weylandts

’n Blink gedagte

Wanneer jy opdrag kry om ’n sjef se kombuis te herontwerp en op te knap, beter jy sorg dat dit nie net mooi is nie, maar so funksioneel moontlik. Dit was die ontwerper Kyle Coetzee van House2home se taak toe hy gevra is om Ivor en Roxy Jones se huis in Plumstead, Kaapstad, te vernuwe. Met ’n kombinasie van viniel met ’n warm houtvoorkoms, en skakerings van grys en mat swart vir ’n moderne kinkel, het Kyle dit beslis reggekry!

Ivor, die hoofsjef by Chefs Warehouse Beau Constantia, en Roxy het reeds die oulike kroegstoeltjies gehad wat lyk soos die doppie wat ’n sjampanjeprop vashou; hulle het net meer geelkoper-aksente bygevoeg met die kashandvatsels, warm geel gloeilampe en ’n bling drankietrollie vir ’n bietjie glans. “Ons wou hê dié ruimte moet ’n apploustrekker wees, en al is dit klein, is die kleurkeuse en ontwerp met al sy pakplek (oop én weggesteek) baie funksioneel,” sê Kyle.

Vierkantige kunswerke deur Nadine Marola van Pure Creation 

Stal uit!

Toe Helen en Franclo Henning in 2010 ’n huis in Durbanville bou, het hulle met ’n unieke ontwerp vorendag gekom vir die Godin-smeulkaggel – hulle het die pyp in ’n fokuspunt omskep deur dit te omraam met ontblote bakstene. “Ons het so baie van die pyp gehou dat ons dit nie wou wegsteek nie,” sê Helen. Nou kry dié slim inham altyd gaste aan die gesels.

Die uitstalling langs die kaggel is ’n kombinasie van nuwe en sentimentele stukke, onder meer ’n spieël en twee etse uit Utrecht in Nederland wat die paartjie tydens hul reise gekoop het.

Hulle het die prentlys teen die muur aangebring sodat hulle nie sou sukkel met ingewikkelde mate en gate boor vir kuns met ongewone fatsoene nie. “Maar dit was steeds nogal ’n ingewikkelde saak om uit te werk hoe om die individuele kunswerke daaraan te hang!” sê Helen en lag. “Eers het ek elke foto individueel gehang, maar die koperdrade het onnet gelyk; toe vereenvoudig ek die ontwerp en hang meer as een stuk aan ’n draad. Ek dink nie ek gaan dit ooit weer skuif nie!” 

Plakkaat van stickaroo.com; deurstuiter van MRP Home 

Berge en dale

Nadat hulle by hul huis in Port Elizabeth ingetrek het, wou Annette Griesel van die aanlynwinkel littlehandmade.co.za iets spesiaals in haar seun Hugo se kamer doen. Hy is nou drie; daarom was dit die ideale tyd om ’n babakamer te groet en vir hom ’n regte seunskamer in te rig.

Annette het ’n berg-ontwerp gebruik sodat sy kleur op ’n speelse manier kon inbring sonder om haar te bind tot ’n spesifieke tema wat gou sal verouder. “Die geometriese ontwerp was ideaal om swart, grys, wit en beige met ’n spatsel geel in te bring. Ek het ook swartbordverf gekies sodat Hugo teen die muur kan teken,” sê sy.

Gordyne van @home; stoel van MRP Home; mat en poef van bellapoppelina.co.za

Vir klein Hugo se kopstuk het Annette ’n ou kamerverdeler opgedollie met vinielplakkers van vragmotors en trekkers. Die sypaneel kan teen die bed omvou om te keer dat die tjokkertjie uitval wanneer hy slaap. Slim!

Glaspaneel van Sublime Glass

Sterreprag

Rozanne Taljaard is gaande oor helder kleure, daarom spog haar Victoriaanse huis in Port Elizabeth met elemente in die Marokkaanse styl. Toe dit tyd raak om ’n spatpaneel vir die stoof te kies, het sy geweet dié dekoratiewe glaspaneel met subtiele titsels goud en ryk blou skakerings is net reg. So mooi!

Krane, handdoek- en stortreling van Builders; wasbak en teëls van CTM; blad van saamgestelde klip van Globel; hangplant van Foxglove Studio; stortgordyn van H&M Home

Verfkleur
Plascon 37 Serious

Vir ’n mooier badkamer

Sarah en Richard Mattheyse het ’n klassieke maar ietwat saai badkamer omskep in een met ’n moderne styl vol oulike detail – nie maklik op ’n klein begroting nie. Hulle het die oorspronklike bad en toilet behou om geld te spaar en liewer ’n stort oor die bad ingesit as om dit met ’n stort te vervang. 

Dieselfde teëls as in die res van die huis is op die vloer en teen die bad gebruik, maar die stortmuur is afgerond met tekstuurryke wit teëls (’n impulsiewe Sondagoggend-kopie). Bêreplek is teen die muur gemonteer om minder ruimte in beslag te neem; dié kassie het ’n laag Plascon Caribbean Current gekry vir ’n spatsel kleur.

Die stortreling is eintlik ’n gordynreling met verstelbare Simplifit-passtukke wat uitskuif en die reling in posisie hou – dit was dus nie nodig om gate in die teëls te boor nie.

VERSKAFFERS