Foto’s Francois Oberholster

Om die hoek

In die beroepsfotograwe en selferkende reisslawe Selma en André Ohlsson se kombuis in Durbanville, vang die rak van rou dennehout wat die muur al om die hoeke volg, dadelik jou oog – dis prakties en visueel stimulerend.

“Ons het die idee op Pinterest gekry. Aanvanklik wou ons die ruimte vir breekgoed gebruik, maar tydens die opknap kon ons van soveel onnodige goed ontslae raak dat ons hier ’n prettige uitstalling kon skep. Die eintlike ‘kombuiserige goed’ is agter toe deure in die onderkaste,” sê Selma.

Lig en helder

Die kombuis is ontwerp deur Lee-Ann; sy het nou saamgewerk met Nicholas Ripepi van My Style Woodworks en die vertrek omskep in ’n ruimte so reg na die eienaars se hart.

Selma en André wou hê hul oopplankombuis moet plek hê vir hul snuisterye en skatte sodat hulle dit elke dag kan waardeer.

“Die kombuis is eintlik maar klein; daarom wou ons ligte kleure hier gebruik sodat dit ’n bietjie groter en helderder kan voel. Ons hou ook van die rou hout, wat die silwer en houtskool mure in die leefarea komplementeer,” verduidelik Selma.

Terwyl hulle aan die kombuis gewerk het, het Lee-Ann die inhoud van die Ohlssons se kombuis in die gastekamer gebêre en besonderse items herbenut en geverf vir iets spesiaals in die kombuis. Die eindresultaat is ’n uitstalling met hartsgoed wat die huiseienaars weerspieël sonder om die ontwerp te oorheers. “Elke liewe detail is net perfek, dis ons!” sê Selma. 

Die treffende lig is ’n oorspronklike skepping deur Lee-Ann Vigus van LVstar Photography and Interiors, geïnspireer deur ’n “spinnekop-lig” met kaal gloeilampe wat Selma in ’n winkel gesien het, maar nie toe kon bekostig nie.

KONTAKTE