Foto’s Francois Oberholster

Maak jou kruisie

Kersfees is die perfekte tyd om met jou kreatiewe talente te spog! Of jy jou versierings stik, borduur, of verf, hoekom nie jou handewerk uitstal aan ’n groot tak bo die tafel nie? Dié pragtige tooisels van Just Love Stitch is hardebord wat jy self met die hand met kruissteek versier. Elke stelletjie kom met ’n basis, patroon en net genoeg garing. Dis die ideale geskenk vir iemand wat graag met hul hande werk. Bestel aanlyn by justlovestitch.com

In groen en goud

Al wat jy nodig het om dié loofryke krans te maak is ’n kartonwiel vir die basis, geharde blare en takke (soos magnolia, suurlemoen, lourier, sipres of den), metaal- of spuitverf en ’n gompistool. Snuffel in die tuin rond vir blare met verskillende vorms en teksture, maar onthou, die idee is dat die blare aan die krans moet uitdroog en nie verwelk nie, so kies geharde blare bo fyn loof.

Spuitverf ’n paar takkies in metaalkleure en laat dit droog word; gebruik dan jou gompistool om die kunswerk saam te stel.
Geïnspireer deur die blog pieceofrainbow.com.

Aan jou bas

Pleks van ’n bokkop teen die muur, probeer ’n takbokvaring aan ’n stuk bas! “Soos enige lugplant hou dié skoonheid van ’n ligte skadu en ’n bietjie water af en toe,” verduidelik Biddy Riley van The Pink Geranium-kwekery.

Deur ’n hoepel gekiek

Moedig familie en vriende aan om by die volgende kuier die herinneringe vas te vang in ’n foto-hoepel. Dis maklik: Neem ’n goedkoop plastiek-hoelahoepel, spuitverf dit goud en verfraai die onderkant met takkies, bessies en blomme.

Die Koopman-gesin – Rupert, Florence en klein Amelia (2) – wys ons hoe.

Wenke
Hang jou hoepel aan ’n lint op ’n plek waar die beligting goed en die agtergrond mooi is. Ons het fyn, battery-aangedrewe koper-stringligte gebruik om die groenigheid in plek te hou en ’n bietjie sprankel by te voeg.
Dekoratiewe koper-stringligte (10 m) van Neat Things

In die rondte

Dié vetplant-bal is gemaak van twee hangmandjies gevul met potgrond en bloemisteskuim om ’n bal te vorm. Dis toe versigtig beplant met allerhande soorte vetplante van The Pink Geranium-kwekery.

As jy jou eie wil maak, onthou om die vetplante oorgenoeg tyd te gee om wortel te skiet; voed dit met water en ’n vloeibare misstof in ’n spuitbottel. Dit maak nie saak of jy een soort vetplant of ’n verskeidenheid kies nie, die effek is ongelooflik mooi wanneer dit oraloor met blomme oortrek is. Jy kan soortgelykes direk bestel by The Pink Geranium.

Dis ’n geskenk wat aanhou groei! – Biddy Riley, The Pink Geranium

’n Krui vir elke geur

’n Klein, geurige krans van geharde kruie soos roosmaryn of laventel sal hemels ruik, en dit sal lieflik lyk aan ’n stoel se rugleuning of teen jou agterdeur. Draai die takkies in ’n sirkelvorm (maak seker al die blare lê in een rigting) en draai dit vas met ’n lint.

As jy wil hê jou krans moet sy vorm behou, maak ’n draadsirkel waaraan jy die kruie kan vasmaak. Ons het rissies bygesit vir kleur en sitrusskil-sterre vir ’n bietjie flair. Gebruik ’n koekiedrukker om die sterretjies uit die skil te druk, steek ’n gaatjie daarin met ’n sosatiestokkie en ryg dit aan die krans. Namate die sterretjies uitdroog, sal hul vorm verander en ’n subtiele geur vrystel.

Lig uit die veld!

Gebruik ’n gompistool en kaneelstokke en maak klein sier-lanterns. Verbloem die gom met droë speserye en versier dit met sitrusskil-sterre en geharde kruie.

VERSKAFFERS