Een uit ’n miljoen

Dié kunswerk met sy prettige verrassingselement van een stroomop vissie versier ’n muur in Laura Matzner se huis op Paternoster. Die vissies is deur kunstenaars in die Oos-Kaap gekerf uit indringerhout. “Hul oorspronklike vissies was ’n bietjie growwer, maar hulle het my skooltjie spesiaal gladder afgewerk.”Ontwerp deur Muto Interior Design

Geslag tot geslag

Nicky Myburgh, produkkoördineerder en hoof van uitstallings by Kamers, was so geïnspireer deur ’n uitstalling van die Oostenrykse skilder Gustav Klimt dat sy besluit het om dié permanente kunswerk in ’n stort in haar historiese herehuis op Stellenbosch te laat installeer. “So ’n kunswerk, wat nie verwyder kan word nie, is ons geskenk aan toekomstige geslagte,” verduidelik sy. Die titsels goud, ’n herinnering aan die goue detail in Klimt se kuns, weerkaats ook lig.Kunswerk deur Jean Marie Slingers

Nog altyd hier

In die 1950’s, jare voor upcycling ’n gonswoord was, het oorlede Philip Myburgh van die Joostenberg-wynplaas buite Stellenbosch ’n “afgetrede” saaimasjienwiel in die stoepmuur van hul historiese herehuis ingebou. Amper sewe dekades en twee geslagte later hou dit steeds die stoep heerlik koel danksy die vars luggie wat daardeur trek, en herinner dit oorlede Philip se kleinseun, ook Philip, en sy vrou, Nicky, aan die plaas se geskiedenis en die ouer geslagte se vindingrykheid. Nicky sê: “Ek is dol oor die rustieke sjarme van my stoep, waar die agterdeur heeldag oop staan.”Mat en mandjie van MRP Home

Leer speel-speel

Antonia Botha se seuntjie, Arlo, geniet dié mosaïekblokke terdeë. Bederf jou eie spruite ook met so ’n kunstige speelplek. Só maak jy:

  • Smeer ’n vierkantige vorm van die verlangde grootte met kookolie. Pak dan die patroon met teëltjies (mooi kant onder, natuurlik) op die bodem en vul die vorm met aangemaakte “readymix”-sement. Werk versigtig dat die teëls nie rondskuif nie.
  • Maak die sementmengsel gelyk met ’n troffel, laat dit droog

Alternatief Spit vorms in klam tuingrond, giet sement daarin en maak gelyk. Pak nou jou patrone met ornamentele teëltjies. Onthou om die rande af te werk sodat dit nie kindervoetjies kan seermaak nie.

Vat die kreatiewe pad

Dié vintage-Volla verskaf bêreplek vir kryte in Benn Prins se speelkamer in Proteavallei, Kaapstad.Binneviersiering deur Bibette Prins van Plan B Vintage

Oë boontoe

Nina en Sascha Berolsky het ’n gewone muur in die agterplaas van hul Groenpunt-huis in iets spesiaals omskep. Hulle het die ou pleister afgekap om die rou beton van die muur, wat in die 1930’s gebou is, te ontbloot; toe het hulle holtes uitgekap en vetplante daarin geplant. ’n Swartoognooi en grenadella-rankplant langsaan skep ’n romantiese atmosfeer.

VERSKAFFERS
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Muto Interior Design 083 450 3637, muto.co.za
  • Plan B Vintage 082 491 3677, planbphotography.co.za