
Foto’s Greg Cox en Karl Rogers Stilering Marian van Wyk
Slaapkamer-skoonheid
In dié gastesuite by die Galashiels Lodge op Stanford het die eienaar, Rosalind Nale, ’n pragtige fokuspunt gemaak met ’n kleurryke afdruk van engeltjies en rose wat enige kamer in ’n apploustrekker sal omskep.
“Die engele en rose is ’n huldeblyk aan my ma, Gill, wat in 2017 oorlede is,” sê Rosalind. “Sy was gaande oor blomme en het in beskermengele geglo. Toe ek dié lieflike linnemateriaal by ’n dekorwinkel in Kaapstad sien, het ek geweet dit sou perfek wees.”
Rosalind het die ekstrahoë plafon ten beste benut deur houtbekleding so hoog soos ’n kopstuk teen al die mure aan te bring – ’n funksionele versiering wat nie net die vertrek mooi afrond nie, maar ook as kopstuk dien én ’n oplossing is teen stygende klamheid in dié erfenishuis.
“Ons het die mure tot die rou pleister gestroop sodat dit kan asemhaal,” verduidelik sy. “Die panele is nie reg teen die muur nie, wat ook help teen die vogtigheid.”
’n Ou Singer-naaimasjientafel met ’n nuwe marmerblad en vars laag blou verf pas pragtig by die meer vroulike elemente in die vertrek, soos ’n antieke gehekelde deken wat Gill jare gelede met vakansie in Frankryk gekoop het, en ’n vintage-bedlampie.
Luuks van laag tot laag
Verskillende teksture soos klipbekleding, linne en hout word in lae gebruik vir ’n romantiese toevlug in dié badkamer in Galashiels Lodge. Die ryk, aardse tone van die rustige palet is in perfekte balans met die klassieke pootjiesbad en titsels goud en kristal in die vorm van ’n engelbeeldjie en sierlike kandelaber.
’n Romeinse blinding met ’n delikate blommotief bied privaatheid, en beklemtoon ook die boogvenster wat steeds tonne natuurlike lig by die vertrek laat instroom.
Deur die blare
In die klein binnehof reg buite die kunstenaar Kim Black en haar man, Brendan, se slaapkamer in Vishoek bring ’n varingmotief hoogte en groenigheid by dié knap hoekie in; die donker muur skep diepte deur as’t ware op die agtergrond te verdwyn.
“Ek het dié muurskildery ’n paar jaar gelede tydens die droogte geverf vir ’n bietjie ‘waterwys’ plantlewe,” onthou Kim. “Dit gee ietwat van ’n Alice in Wonderland-gevoel. Ek is mal oor varings! Dit herinner my aan woude en strome, en dis altyd kalmerend om groenigheid om jou te hê.”
Die patroon word herhaal met lewende varings wat hulle ingebring het toe die ergste droogte in die Wes-Kaap verby was. Kim en Brendan het klippies gebruik om die baksteenvloer te bedek en ekstra tekstuur te skep. Retro-metaalstoele, van ’n winkel in Muizenberg wat intussen sy deure gesluit het, voltooi die prentjie.
Uit die hoogtes
Staan opsy, granny chic, daar’s ’n nuwe blommotief op die toneel! Dié treffende muurskildery in die Blacks se sitkamer met sy ryk, sielvolle palet is ’n toonbeeld van weelde. Die kunswerk was ’n oefenlopie vir ’n muurskildery wat Kim daarna in die Mount Nelson-hotel se Oasis Room gedoen het. “Die kleure herinner aan ’n geil, tropiese woud,” verduidelik sy. “Ek wou baie groen en oorgroot elemente hê wat ’n magiese gevoel sou skep.”
Kim het alles eers in kryt geteken voor sy begin skilder het; daarna het sy die muur met ’n mat vernis geseël. Dis ’n vroulike ontwerp, maar die moderne kleure maak ’n stelling sonder om die ruimte waar die paartjie uitspan of vriende onthaal, te oorweldig. ’n Ottoman herhaal die bloospienk spatsels in die muur, terwyl groot matte in balans is met die oorgroot kunswerk.