Stilering Suretha Jansen van Rensburg • Foto’s ER Lombard

Kosbare geskenke

Die keramiekkunstenaar Michael Brian Waugh het tonne inspirasie gekry uit die werk van ’n straatkunstenaar wat ou, stukkende breekgoed teen pilare vassit in die trendy Maboneng-distrik in Johannesburg se ou sakegebied. Daarom het hy met die inwyding van sy nuwe oopplanwoonstel gevra vir ou blou-en-wit keramiek- en porseleinware as daknatmaak-geskenke – spesifiek borde en dienborde.

Hy het die borde teen die muur vasgesit met ’n dik laag teëlsement, en dit toe afgerond met swart voegbry tussenin vir ’n dramatiese, driedimensionele spatpaneel in sy kombuis. “Ek het ’n hele verskeidenheid tweedehandse borde gekry – van Chinese porselein tot Delftware. Daar was selfs ’n paar vintage-Africana-stukke. En elkeen herinner my aan die vriende wat bygedra het tot dié sentimentele vertoonstuk.”

Dis in die detail
’n Vollengte-gordyn dien as kamerverdeler en word netjies op sy plek gehou met ’n leergordel.

Op vele vlakke

Michael het besluit op ’n gelaagde ontwerp vir sy oopplanwoonstel om die lieflike uitsigte op die stad ten beste te benut. Die sitkamer en kombuis is op “grondvlak”, terwyl die slaapkamer rus op ’n platform van hout wat hy tydens sy eerste eiendomsontwikkeling in Berea gered het. Agter die slaapdeel is die badkamer, nog ’n paar trappies hoër. Dié slim ruimteverdeling lei tot ’n unieke uitsig vanaf elke vlak.

Agter die bed vorm die stort se spatpaneel ’n indrukwekkende fokusmuur. Die ingewikkelde ontwerp met teëls verbloem die stortkop en -krane wat andersins net te veel in die oog sou wees uit die sitkamer, en kry gaste altyd aan die gesels. “Die teëls is gelê volgens my eie ontwerp; dit was een van daardie idees wat jou net uit die bloute tref,” sê Michael.

Dis in die detail
Lugplante en donker voegbry wat soos boomtakke lyk, skep ’n treffende, organiese voorkoms.