Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper • Stilering Marian van Wyk en Suretha Jansen van Rensburg

Teëls tot die redding

Toe die hitte van hul nuwe kaggel die pleister op die muur daaragter laat kraak, moes die eienaars van dié huis in Oranjezicht ’n plan bedink wat nie net prakties is nie, maar ook mooi lyk. Hul oplossing? Die mooiste seshoekige Acuarelas-porseleinteëls van Douglas Jones (R450/m²) om die skade te bedek. Die ADF Panora-houtkaggel kom gewoonlik met ’n bêrerak vir hout daaronder, maar hulle het dit laat afhaal sodat die kaggel direk op die betonrak kan staan.
Kaggel geïnstalleer deur ItalFire Heating Solutions; mat en kussings van MRP Home

Ontwerp bo alles

’n Ekstragroot swart vlekvryestaal-skoorsteenpyp verskaf ’n tikkie drama aan dié oop vuurmaakplek in Ute Faure se huis in die Bo-Kaap. Die kaggel, ontwerp en geïnstalleer deur Berrisford Construction, bestaan eenvoudig uit ’n laag vuurvaste stene wat in die betonsitplek ingebed is. “Die asimmetriese vorm van die skoorsteen ontlok altyd kommentaar by ons gaste!” sê Ute.

Die kaggel is ongetwyfeld die middelpunt van ons sitkamer. – Ute Faure

Nuwe gedaante

Nadat Gerda en Eric Guldemond hul huis in Centurion opgeknap het, moes die kaggel darem ook ’n vars voorkoms kry. Hulle het dié indrukwekkende projek vir verlede jaar se Regruk met Flair-wedstryd ingeskryf en ons was so beïndruk, ons moes dit eenvoudig met ons lesers deel! Die paartjie het die ou vlekvryestaal-boks uitgebreek met ’n hoekslyper en beitels, en die oorspronklike oop kaggel daaragter ontdek – propvol bourommel! Hulle het die ou voorkant netjies weggesny en ’n nis van bakstene gebou. Ter afronding het hulle balke en ’n kaggelrak van saligna onder die skoorsteen bygevoeg. Die nuwe smeulkaggel staan nou op nuwe grys porselein-teëls, in pas met die varsgeverfde muur daaragter. So mooi!
Kaggel van Morsø Fireplaces

Sê jou sê

Hier het die huismense swartbordverf gebruik om ’n prettige fokuspunt bo hul kaggel te skep – perfek vir wanneer jy net eenvoudig moet uiting gee aan jou kreatiwiteit. Die speelse fokusmuur sorg vir ’n verrassing tussen die meer formele elemente in die vertrek, soos die houtmeubels en -vloer, en die kaggelomranding van marmer. Die beste van als? Dit wys geen roetmerke nie!
Foto Alexander van Berge/Frank Features

Slim plan!
’n Lang spieël skep die indruk van ruimte.
KONTAKTE EN VERSKAFFERS