Foto’s Francois Oberholster

Ten slotte

Jill Marion se sleutelversameling het op haar 21ste verjaardag begin. “Pleks van ’n gegraveerde sleutel het my ouers my ’n reusegroot, geroeste sleutel van ’n ou Skotse kasteel gegee,” verduidelik sy.

“Die res het ek op my reise bymekaargemaak – dis so maklik om te vervoer! Ek het begin by sleutels, maar nou versamel ek ook slotte, kurktrekkers en selfs ou knipmesse. Die boeie is van die ou tronk in Mosselbaai; ek het dit by ’n bejaarde man gekry toe hy sien ek het ’n ou tronkdeur agterop my bakkie.”

Jill haal die staalspykers uit kabelknippe en gebruik dit om die groter items teen die muur te hang; dun Prestik-“worsies” werk goed vir die kleiner sleutels.

Kyk in die bottel

’n Vertikale tuin is ’n slim plan om ’n vervelige muur op te kikker. Wehrner Lemmer het dié interessante struktuur vir die muur buite sy koffiewinkel en restaurant RAAK! in Port Elizabeth gemaak deur hake aan twee klaargemaakte gegalvaniseerde roosters vas te sweis; dis aan die muur geheg met skroewe en epoksigom om te verseker dit sit stewig. Herwinde plastiekbottels is oopgesny, met kabelstroppe vasgemaak en toe beplant met ’n verskeidenheid inheemse vetplante.

“Ons oorspronklike idee was om kruie te plant wat ons in die restaurant kan gebruik,” sê Wehrner. “Maar ons het gou agtergekom die muur se posisie in die tuin is nie ideaal om eetbare plante te kweek nie. Maar ons vetplante gedy hier.”

Hoe meer siele, hoe meer vreugde

’n Insekhotel is niks nuuts nie, maar as joune ’n replika van jou woonhuis is, verdien jy ’n penveer in jou hoed! “My vrou, Gayle, het ’n soortgelyke insekhotel by Babylonstoren naby Franschhoek gewaar,” vertel Johan Nel van Boston. “Sy het opdrag gegee dat ek vir haar een bou.” Toe bou hy ’n klein model van hul geskiedkundige plaasstyl-huis (een van die eerstes wat rondom 1910 in die buurt gebou is), met ’n dak wat oplig sodat jy binne-in kan loer.

“Dis eintlik ’n voëlhuisie bo-op ’n insekhotel en ons hoop daar trek ’n geveerde loseerder in.” Die “hotelkamers” onder is ingerig met materiale wat geskikte habitats skep vir bepaalde insekte. Hout, klippies, bamboes, dennebolle, bas, kurk, stokkies en teëls is gewilde materiale vir die doel.

“Ons hou veral van die patrone wat die verskillende rakkies en hul inhoud skep. ’n Mens kan lekker kreatief raak met so ’n projek,” sê Johan tevrede.

Groen oplossing

Wehrner en Annette Lemmer het ’n blink plan beraam om ’n onooglike droëmuur in hul Baaise restaurant te verbloem: Hulle het kunsgras met skroefies daaraan vasgesit. “Dit gee hierdie hoekie soveel tekstuur en trefkrag,” sê Wehrner. Hulle het afvalstukke gebruik en versigtig gemeet en gepas – met groot sukses.

Mandjies vol

Die kreatiewe paartjie Tina en Hannes Maritz (ons het hul huis, ’n omgeskakelde melkery op Wellington, in die Desember 2015-uitgawe gewys) het gevlegte mandjies aan hul hout-grensmuur gehang om die vertikale lyne te versag. Nou kan hulle plante met ’n mooi, hangende groeiwyse daarin sit en verander soos die bui hulle pak.

Mooi loop

Die Kaapse kunstenaar Madeleine Kooyman van Manen het dié trapklippe vir haar tuin gemaak met keramiekhartjies wat haar na aan die hart lê. “My vriendin Deirdre Taylor is ’n kunstenaar in Pretoria, en sy het dié hartjies vir my gemaak. Ek het dit gekry toe ons einde 2012 uit Pretoria Kaap toe getrek het. Ek en sy is al sedert 1990 vriende en elke hartjie-boodskap het betekenis vir my.

“Die stapblokke is voor ’n klein houtdek wat my man, Peter, gebou het sodat ek in die koelte van my groot koraalboom kan sit. Dit was ’n moeilike plek om tuin te maak en die sithoekie was die perfekte oplossing. Daardie deel van die tuin het ’n hele paar struike met lieflike geure en ek kan al drie my voëlbakke van daar af sien. Van die plante wat daar groei, het ook sentimentele waarde, so my gedagtes dwaal heerlik wanneer ek daar sit.”