Foto’s Elza Cooper

Beplan vir die toekoms

Dit kan ’n gedugte taak wees om ’n veeldoelige oopplanruimte te ontwerp, maar die Johannesburgse interieurontwerper Tammy Holmes het goed daarin geslaag deur ’n neutrale palet in te span met oorgenoeg detail daarby.

Wit mure en ’n wit plafon saam met natuurlike en hout-elemente skep ’n kalm atmosfeer. “As ontwerper het ek gewoonlik ’n ruim hand met kleur, daarom was dié vertrek vir my nogal ’n uitdaging. Maar dis vir my lekker dat dit eintlik afwyk van my gewone styl; dis die perfekte agtergrond wanneer ek kliënte ontmoet,” sê sy.

“Omdat dié ruimte op dieselfde vlak is as twee slaapkamers, ’n badkamer en kombuisie, het ek dit ontwerp as ’n leefvertrek en sitkamer sodat die volgende eienaars dit as ’n eenheid kan verhuur.” Spieël van Ivy Décor & Design Tafel, sisalmat en staanlamp van Block & Chisel; plakpapier deur Cara Saven

“Om dié ruimte nog groter te laat voel, het ek ontblote dakbalke gekies wat ’n oop, ligte gevoel skep en ’n massiewe staanspieël gebruik wat die lieflike plakpapier teen die oorkantse muur weerkaats,” vertel Tammy.

Detail in afronding

Gebruik botaniese lap en natuurlike teksture om jou dekor by die tuin te laat inskakel, is Tammy se raad. Sy het eikehoutblaaie met donkerhoutpote gekombineer vir die tafel en banke, en ’n Malawi-stoel geverf in Plascon Bovine aan die ente bygevoeg. Vir detail is die kussings van geblomde lap op die banke afgerond met swart-en-wit omboorsel. Lap van Hertex; Malawi-stoel van Amatuli

Moenie huiwer om sterk afdrukke, patrone en donker kleure te gebruik nie. – Tammy
VERSKAFFERS

Amatuli 011 440 5065

Block & Chisel 021 691 0878

Cara Saven 082 696 6062  

Hertex 0860 437 839

Ivy Décor & Design (Tammy Holmes) 083 650 4177