Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper en Henrique Wilding
Stilering Marian van Wyk, Suretha Jansen van Rensburg en Kim Bougaardt

Blommeprag

Teëls is ’n slim manier om ’n spatsel kleur in te bring en ’n tema te versterk. Cara Saven van Kaapstad het dié seshoekige teëls met ’n blompatroon so reg uit die 70’s vir ’n aksentmuur in haar braai-area gebruik. Al is dit eintlik badkamer-teëls, pas dit perfek in by haar retro-dekor – sien die res van haar huis hier.
Acuarelas-porseleinteëls uit Douglas Jones se Victoria-reeks R450/m²

Slim oplossing

Len en Faith du Plessis het ’n ou koffietafel gehad wat hulle graag buite op die braaidek by hul huis op Knysna wou gebruik. Toe besluit Len om dit te versier met helderblou en -groen keramiekteëls wat Faith met die hand gemaak en by haar pottebakkersgroep gebak het.

Hy het die teëls met Pattex No More Nails op ’n stuk Nutec-bord geplak – en nou is dit op die tafel se blad. “Ons kan warm kos daarop voorsit, dit maak maklik skoon en lyk pragtig!” sê Len. Hulle gebruik ook ’n verskeidenheid gekleurde glase en bykomstighede om hul buite-kuierplek op te vrolik.

Uitspattig!

Rita Louw van Hermanus versamel al jare lank dekorfoto’s uit haar gunsteling-tydskrifte – Tuis inkluis, natuurlik! Toe sy besluit om ’n spatpaneel vir haar kombuis te maak, het sy gewonder hoe sy haar kleurvolle fotoversameling kon inspan ...

Rita het die foto’s met podge op wit keramiekteëls geplak en al die lugborrels uitgevryf. Daarna het sy sewe lae podge oor elke teël aangewend, gevolg deur sewe lae hittebestande vernis – met genoeg tyd tussen lae om goed droog te word.

“Dit het soos ’n bom gewerk,” sê Rita. “Ek vee dit net met ’n klam lap af as ek dit wil skoonmaak.” Die teëls is beslis ’n treffer onder gaste. “Elkeen wat hier kom kuier, het ’n gunsteling,” voeg sy by.
Blue Meireles-gasstoof met elektriese oond van Tafelberg Furnishers; kombuiskaste geverf in ’n spesiale mengsel (30BG57/149) van Dulux Pearlglo

Hou kop

Morgan Piper van Houtbaai wou graag haar dogter India se neutrale slaapkamer ophelder, toe maak sy ’n besonderse kopstuk met teëls van verskillende patrone en kleure. Sy het die gipsraam en teëls teen die muur vasgesit met teëlgom.
Teëls en raam van Moroccan Warehouse; strooikussings van Woolworths

Ek het teëls gebruik om treffende kontras te skep wat die ruimte lewe gee. – Morgan

In die regte luim

Kiewiet Hugo wou ’n treffende kleurpalet in haar kombuis in Bloubergstrand hê. Sy het konsepborde (“mood boards”) gebruik sodat sy met kleurkombinasies kon eksperimenteer – en die resultaat is ’n opgewekte ruimte waar sy en haar gesin alte lekker kuier.

“Konsentreer op die volle prentjie pleks van die onderskeie dele van die geheel,” is haar raad oor kleur in jou huis. “Dis waar konsepborde help. En wees dapper! Ek skrik nie om kleur in te span nie!”

Hier het Kiewiet verskeie areas met behulp van kleur beklemtoon, soos die sementrakke in haar spens waar ’n versameling bekers en ’n kunswerk pragtig uitstaan teen die donkerpers. Die “kandelaber” bo die kombuistafel het Kiewiet gemaak van ’n tak wat sy opgetel en met onder meer stringligte nuwe lewe gegee het.

VERSKAFFERS