1. Snuffelgids

Op 74 is Dolene Jobing van Plattekloof buite Kaapstad nog propvol kreatiewe idees. Sy snuffel graag by die Milnerton-mark rond vir ou tapisserieë wat sy met oorskietlap kombineer as stoffering vir haar meubels, soos dié bankie aan die voetenent van haar bed. Sy het die lappieskombers self gemaak – ook van oorskietlap en -kant. Dolene skrik nie om verskillende motiewe saam te gebruik nie; die geheim, sê sy, is ’n eenvormige palet van rustige kleure en blommotiewe.

’n Lagie dofgoue verf op die rugleuning en pote van die stoele om Dolene se eetkamertafel (foto heel bo) beklemtoon die kurwes en komplementeer die ryk kleure van die rooi geborduurde papawers op die sitplek – weelde langs die eettafel!

2. Perfek vir ’n prinses

’n Hemelbed is mos enige meisie se droom! Die sagte gordyne rondom Gemma Haupt (11) se bed verleen lieflike atmosfeer, maar as sy in die toekoms ’n ander dekorrigting wil inslaan, kan sy dit maklik afhaal. Die kandelaber is geverf in dieselfde sagte pastelkleure wat in die res van die vertrek voorkom.
Bed en gordyne van Adriaan Lochner Interiors; kandelaber van Delos

3. Trapsoetjies

Hill Manor, ’n Victoriaanse gastehuis in Potchefstroom in Noordwes, is die ene romantiese detail, soos vintage- geblomde plakpapier, luukse matte met mooi patrone en antieke items sodat daar oral iets moois is om na te kyk. Selfs die onderkant van die trap is met ’n blommotief versier!
Foto Jean de Villiers • Geneem by Hill Manor (071 881 5150)

4. Voëlbad

Toe die kreatiewe opknappers Kelly en Johnathan Croeser ’n plekkie gekort het om hul badprodukte byderhand te hou, het Kelly besluit ’n pragtige voëlvoerder is heelwat interessanter as ’n gewone rak. “Dis ’n oulike en praktiese toevoeging tot die badkamer. Ek kon die voerder naby die bad hang vir maklik raakvat en dit neem min genoeg van die beperkte muurspasie in beslag. Dis ook nou ’n fokuspunt in ’n andersins ‘dooie’ ruimte,” verduidelik Kelly.

KONTAK EN VERSKAFFER