Foto’s Francois Oberholster, ER Lombard en Amora Erasmus Photography | Stilering Marian van Wyk en Suretha Jansen van Rensburg

Hake van takealot.com; houtkis van Mambo’s Storage & Home

Netjiese oplossing

Stacy en Jacques van Zyl van Brackenfell wou graag ’n aanloklike – en bekostigbare – opsie hê vir hul huis se ingang reg by die oopplan-sit-en-eetkamer. Jacques het paletplanke gebruik om ’n struktuur te bou wat hy toe teen die muur langs die voordeur gemonteer het om die ruimte definisie te gee.

“Daar is nie baie pakplek in die huis nie en ons gebruik dié area om jasse, musse, serpe en sakke te hang – en die kis verskaf sit- en pakplek,” sê Stacy.

’n Speelse element

’n Gastekamer in Dirk en Sindi Jooste se huis in Durbanville dien ook as speelkamer vir hul kinders – Chrisjan (5), Ruan (3) en Amelie (1).

Hulle gebruik ’n groot ingeboude melamienkas om die vertrek aan die kant te hou. Met sy kombinasie van oop rakke vir mooi uitstalgoed en toe deure vir die kinders se speelgoed is dit uiters praktiese bêreplek.

Die Joostes het Isabel Barends van Love Lemon Interior Decorating gevra om die kamer aan te pas vir albei doeleindes. Sy het die kas vernuwe deur die deure met Tjhoko Paint te verf – party donkergrys (Sherif’s Stone), ander in skakerings van pers (Petunia en Precious).

“Waar dié groot meubelstuk voorheen niks tot die voorkoms van die vertrek bygedra het nie, is dit nou ’n lieflike element wat ook speeltyd inspireer,” sê Isabel.

Teëls van Union Tiles; wasbak van Eurotrend; ’n rottangmandjie van Coricraft word gebruik as lampkap

Mooi op ’n begroting

Toe Rian Pienaar besluit om die badkamer in sy Robertson-gastehuis, House of Pinardt, op te knap, was hy op soek na ’n bekostigbare dog treffende oplossing vir die wasbakkas. Toe neem hy oorskiet-bakstene van ’n opknap en bou drie pilare (daar was nie genoeg stene vir een groot struktuur nie): een vir die wasbak en twee om artikels op neer te sit.

Só was dit nie nodig vir ’n blad, wat duur kon wees, nie; pleks daarvan het Riaan elke pilaar beklee met dekoratiewe wit-en-swart teëls. “Een van my gunsteling-eienskappe van die badkamer is dat toiletware en handdoeke apart van die wasbak gehou word, wat beteken dit raak nie sommer nat nie!” sê hy.

Rak en spieël van Game; die stoel is ’n tweedehandse vonds en Kristin se suster het die mat gehekel

Vir nou en later

Kristin Hooper van KH Create Interiors het ’n oulike dennehoutrak in Olive, haar vierjarige dogter, se kamer geïnstalleer sodat dié ontluikende klein kunstenaar dit as lessenaar en spieëltafel kan gebruik. Die rak kan maklik afgehaal en hoër teen die muur opgesit word wanneer Olive groter word.

Foto Kristina Soljo/bauersyndication.com.au/magazinefeatures.co.za

Oop en bloot

Minimalistiese oop kaste is nou warm mode en dis maklik om te sien hoekom – dit moedig jou aan om ontslae te raak van als wat onnodig is (vaarwel ongewenste Kersgeskenke en impulsiewe kopies wat jy nooit dra nie!) én is ’n praktiese, stylvolle toevoeging tot jou ruimte. Ons dink dié een met sy klererak, smal spieël, laai en skoene in deursigtige houers is elegant verby.

Agter toe deure

In Marnus en Isma Coetzee se huis in Mooikloof Glen, Pretoria, het ’n geroeste tweedehandse sluitkas van Sinkhuisie Antiques die fokuspunt in Anabelle (2) en Nicolas (4) se speelkamer geword. “Dis wonderlik om ’n enkele eenheid te hê waar ek al hul speelgoed en kunsvlyt-benodigdhede kan wegpak,” sê Isma, wat dit ’n vrolike geel geverf het. “Daar is twee rakke agter elke deur en ons kan dit wat ons vir eers uit die kinders se bereik wil hou, op die hoër rakke sit. Dis so nuttig en kan maklik ’n ander kleur geverf word vir gebruik elders in ons huis indien nodig.” 

VERSKAFFERS EN KONTAKTE