Foto Greg Cox/bureaux.co.za

Heen en weer

Die argitek Clara da Cruz Almeida se kombuis spog met rye vertikale stroke waaraan staalrakke (ook die plekbesparende droograk!) vasknip – party met berkehoutbokse vir losgoed bo-op. Die stelsel is aanpasbaar en jy kan die rakke rondskuif namate jou behoeftes verander, of uitbrei soos jou ruimte of begroting toelaat. Ontwerp en installering deur Dokter and Misses

Foto: Warren Hearth/bureaux.co.za

Deursigtig

Michael Udell en Carin Dean-Wales beskryf hul woonstel in Seepunt as ’n helder, ligte kokon, ondanks sy afmetings. Hulle het dié voorkoms reg deur hul blyplek verkry deur ’n wit kleurskema te kombineer met ligte hout. Toe hulle later besluit om ’n kantoorruimte in ’n hoekie van hul slaapkamer te skep wat by die geheel sou pas, is ’n laaikas uitgehaal en ’n eenvoudige glasblad tussen die twee mure ingesit om op te werk – slim én elegant!

Foto Warren Heath/Frank Features • Produksie Luanne Toms/Frank Features

Uit die pad

Toe Luanne Toms by haar klein oopplanwoonstel in die Kaapse middestad intrek, het sy die bonkige trap laat vervang met ’n stylvolle wit “sweeftrap”. Pakplek daaronder is uitgehaal om plek te maak vir Luanne se tuiskantoor met ’n slim ruimterekker – ’n verstelbare stoel wat sy met ’n gas-aksie kan laat sak en dan binne-in die kas bêre wanneer sy dit nie nodig het nie. Die kasdeure vou oop vir beenspasie en die kasbodem dien as voetrus! 

Ons is dol hieroor!
Die helder wit palet kontrasteer lieflik met die swart blokkiesvloer.

Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Industrieel sjiek

Met net vier vierkante meter werkspasie in haar kombuis het Sarah Jarrett van Wynberg, Kaapstad, inspirasie geput uit industriële kombuise met hul kenmerkende oop rakke waar alles maklik bereikbaar is. Die staalrak (links onder) teen ’n herwinde Oregondennehoutdeur bied genoeg pakplek vir glasflesse vol soetgoed, emaljeware en potte. ’n Hele ry houers van gegalvaniseerde metaal (regs onder), wat sy langs die pad in Zimbabwe gekoop het, hou suiker en speserye, terwyl al haar alledaagse gereedskap en messe raakvat-byderhand is danksy ’n reling met S-hake en ’n magneetstrook teen die muur. 

Ons is dol hieroor!
Sarah het self die lig- en donkergrys strepe geverf; dis met ’n dik laag vernis afgerond.
My gesin is heeltyd aan die kook en bak, so ons moet georganiseer bly, maar ons is nie naastenby netjies genoeg om in ’n minimalistiese kombuis reg te kom nie. – Sarah
decor, bathroom, storage, bookshelf, barn door
Foto’s Francois Oberholster
decor, bathroom, storage, bookshelf, barn door
Foto’s Francois Oberholster
decor, bathroom, storage, bookshelf, barn door
Foto’s Francois Oberholster

Nommerpas

Juanne-Pierre de Abreu wou ’n praktiese dog treffende deur tussen die slaap- en sitkamer in sy 90 m2-woonstel in Seepunt hê. Hy het dié veeldoelige skuurdeur met diep rakke wat inmekaarskuif self ontwerp en by Hoity Toity Furniture laat maak – perfek as fokusmuur wanneer dit toe is én as uitstalplek vir sy versameling flieks, boeke en speletjies. “My doel was aanvanklik dat ’n mens nie sou raai daar is ’n kamer agter die toe deur nie, amper soos ’n geheime vertrek,” sê Juanne-Pierre. “Die ruimtebesparing was eintlik net ’n bonus!”

Foto: Greg Cox/bureaux.co.za

Nuwe hoogtes

In Kobus Truter en Marc Knickelbein se kontemporêre Groenpuntse huis tel elke vierkante sentimeter. Hulle het selfs die ruimte bo die trap benut deur dennehoutrakke daar in te sit. “Ons het gemeen dit sou goeie bêreplek skep in ’n andersins ‘dooie’ hoek,” sê Kobus. “Die rakke is bereikbaar van die trap en het plek vir boeke, tydskrifte en klein plante, wat dit dan ook ’n oulike fokuspunt maak.”

Foto: Greg Cox/bureaux.co.za

Laat wiel

Doreen de Waal wou hê die klein kombuis in haar selfsorg-kothuis in Tamboerskloof moet ’n aanpasbare ruimte wees vir die volgehoue stroom gaste wat daar oorbly. Pleks van ingeboude kaste en toonbanke het sy modulêre eenhede op rolwiele laat maak sodat gaste dit kan rondskuif soos nodig. Vingergaatjies pleks van handvatsels op die kasdeure hou die voorkoms stroombelyn.

Earth Night-plakpapier ontwerp deur Renée Rossouw, beskikbaar by Robin Sprong; wasbak van normann-copenhagen.com, kraan van Tiletoria.

’n Muur met swartbordverf vir boodskappe en inkopielyste baken die kombuis af in dié oopplanwoonstel.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Dokter and Misses 011 403 1024

Hoity Toity Furniture 021 553 0056

Robin Sprong 021 447 9842

Tiletoria 021 202 0160