book-icon Uitgawe April 2021
Deel

Vars idees vir uitstalplek

akkreditasie
Gebruik wat jy het en toor daarmee!

Foto’s Greg Cox en Francois Oberholster

Hout en staal

Toe Johan Else tydens die grendeltyd in 2020 noodgedwonge ’n paar weke by sy dogter Francéne Bekker in Durbanville moes kuier, het dié afgetrede argitek-pa ’n slim uitstalplek vir haar geliefde vetplante ontwerp en gebou. Sonder toegang tot winkels vir nuwe boumateriaal moes Johan ’n plan maak met wat by die huis beskikbaar was. En dit kon nie sommer enige plantrak wees nie: Met dié dat die leefarea daarop uitkyk, moes die ontwerp sag op die oog wees; dit moes ook wegstaan van die muur vir wanneer die huis weer geverf moet word.

Johan het die uitdaging aangegryp. Hy het al die staalstawe vooraf met roesweerder behandel en die houtwerk afgerond met twee lae akrielverf vir duursaamheid. “Sonder my rekenaar en Autocad-program moes ek al die beplanning met die hand – maar steeds op skaal – op fotostaatpapier doen,” vertel Johan in sy skik.

Muurkuns en kussings van Art de Olivia; swart plantpot van Tredici

Vyfsterverblyf

Die kunstenaar Olivia Botha en haar man, Karel, het ’n rustige maar vrolike kleurskema gekies vir die gastekamer in hul plaashuis buite Swellendam. “Ek wil hê ons gaste moet ontspan wanneer hulle oorbly,” verduidelik Olivia. ’n Koppenent van tekstuurryke hout en uitstalbokse is nie net ’n mooi fokuspunt nie, dit steek ook ’n kragkabel weg. “Die houtbeelde kom uit Mosambiek en die ster was ’n geskenk wat spesiaal vir ons gemaak is.” Olivia en Karel het ook tweedehandse bedkassies trefkrag gegee met lasergesnyde panele.

Stukkies en brokkies

Trix Grové het ’n oog vir ’n mooi ding. Sy en haar man, Koos, bedryf nie verniet die oudhedewinkel Napier Antiek op dié Overbergse dorp nie. Dié treffende blou-en-wit teël het sy jare gelede al gekoop, so met sy gebreekte rand.

“Ek is mal oor skerwe porselein en het voorbeelde daarvan oral in en om my huis in potplante en dies meer,” vertel Trix, wat die mooi in onvolmaakte elemente waardeer. Die groot teël hang stewig aan ’n hakie teen die muur bo hul braaiplek op die stoep, terwyl die kleiner skerfies sommer so met wondergom vasgesit is om die prentjie interressant te hou. “So kan ek skuif en byvoeg nes ek lus kry!” vertel Trix laggend.

Houtwerk deur Petika & Co.

In geval van nood

Matti en Erik Roon van Stellenbosch het breë populierhoutbalke oor die lengte van die muur agter die toilet, wasbak en bad in hul badkamer gemonteer. Met die lieflike tekstuur is dit nie net dekoratief nie, die balke is ook breed genoeg vir waardevolle uitstalruimte en bêreplek. In die paneel agter die troon het hulle twee holtes laat saag as bêreplek vir ekstra toiletrolle. “Dit was Erik se slim idee” vertel Matti.

Plantpot van Stodels

Vind jou nis

Die nis bo die toilet in Maryke en Clifford Roberts se en suite in hul huis in die Strand is oorspronklik beplan vir toiletrolle bêre, maar dit het gou ’n uitstalruimte geword. “Ek het die dekoratiewe krul-stut onder die rakkie al 20 jaar; uiteindelik het dit nut gekry!” sê Maryke. Sy het die plantpot gekies as maat vir die Oosterse beeldjie regs daarvan. “Die beeldjie, wat uit sagte klip gekerf is, was meer as 50 jaar my ma s’n. Sy is agt jaar gelede oorlede en dit het groot sentimentele waarde vir my.” Die verfkleur is gemeng uit verskillende groen toetspotjies. “Ek probeer ons badkamer stuk vir stuk in ’n groen oase omskep!” verduidelik sy.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Art de Olivia 076 607 7315

Napier Antiek 028 423 3314

Petika & Co. 021 886 5199

Stodels 

Tredici 028 514 2216

Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees