Skep 1,2,3 ’n feestelike luim in jou huis en buitekuierplek met ’n tikkie glans en elemente uit die natuur!

Blink bekoring

Kies ’n skitterende metaalkleurskema met helderpienk aksente vir Kersfeesdekor wat die asem wegslaan.

Dek die tafel

Skep die allermooiste feestafel deur ’n ou deur op bokkies te gebruik en die dan op te dollie vir die groot dag.

Blomtyd

’n Brons kruik vol Banksia-proteas op ’n ou stoel teen die muur vorm ’n feestelike fokuspunt.

Nuwe baadjie

Gee ’n gewone plastiekkruik trefkrag met ’n laag brons spuitverf.

Wapper in die wind

Selfgemaakte vlaggies is ’n maklike, goedkoop opsie vir jou buitekuierplek. Maak lang vlae uit lap met ’n sierlike ontwerp (jy kan die hoeke met leer versterk). Of knip skildvorms uit riffelkarton, spuitverf dit in die kleur van jou keuse en hang dit aan windmaker goue tou!

Na die letter

Letters en woorde is ’n wonderlike manier om ’n feestelike atmosfeer te skep. Knip individuele letters uit ’n dubbele laag goiing en kap die rande om vir ’n ruwe, verweerde voorkoms. Stop dan die letters op en rond die onderste derde af met goue blinkerverf.


Natuurlik en aards

Put inspirasie uit die omgewing en vrolik jou feeshuis op met geskenke van Moeder Natuur self.

Optelgoed

Hang ’n aardse kruis van dryfhout teen ’n ou deur wat teen ’n muur staangemaak is en kyk hoe lig dit die Kers-atmosfeer in jou huis.

Teenoorgesteldes ...

Maak ’n tafelloper van goiing en werk dit af met kant vir ’n sagter voorkoms. Jy kan die oorskiet-goiing weer gebruik vir ander versierings.

Vlam van vreugde

Vul terracottapotte met fyn groenigheid en druk ’n kers in elkeen vir trefkrag op jou Kerstafel. Laat ’n paar olyftakkies lossies tussen-in lê om die tekstuur te herhaal.

Gevleg en versier

Kerskranse van wingerdlote is vryelik beskikbaar by die meeste blomwinkels. Druk jou stempel daarop af met blomme uit jou tuin en ’n groot strik daarby!

Boom tot boom

Herwin ou paletplanke vir Kersversierings! Trek jou vorms op die hout af, saag dit versigtig uit met ’n figuursaag en skuur die rande om ’n verweerde voorkoms te verkry. Boor ’n gaatjie vir ’n lint waaraan jy dit kan ophang.

Tyd van vrede

’n Afvalstrook goiing waaraan ’n olyftakkie gebind is, rond elke stoel feestelik af.

Maak maar vol!

Maak jou eie Kerskouse van goiing, rond dit af met kant en hang dit sommer aan die kapstok! Vader Krismis gaan dit beslis nie miskyk nie!

Tasbare liefde

Geskenke se ereplek hoef nie altyd onder die Kersboom te wees nie. Pak dit in ’n groot ou koffer en vul die spasies met dennebolle. Draai elkeen toe in bruinpapier, goiing en natuurlike linte, en skep so ’n fees vir die oog!