Vraag: Ons het 'n groot venster in wat ons die leeskamer noem wat baie direkte lig in die oggend kry. In die winter maak dit die vertrek lekker warm, maar in die somer kan dit baie onaangenaam wees. Ons het hortjies oorweeg, want ons hou van die voorkoms en dat dit ons die opsie gee om die hortjies in die winter oop te los, maar ons is onseker of ons dit binne of buite die venster moet installeer. Wat moet ons oorweeg met dié besluit, en wat is ons opsies? – Shané Barnard, Wellington

Karina Palmer van American Shutters antwoord: Shané se vensters maak buitentoe oop, so al praktiese opsie is om die hortjies aan die binnekant te installeer. Daar is wel baie voordele daaraan verbonde om hortjies binne te installeer:

1. Die hortjies kan toegetrek bly met die vensters oop vir ventilasie; dit behoort te help met hitte-opbou wat hulle in die somermaande ervaar.

2. Die hortjies sal baie skoner en in ’n beter toestand bly.

3. Daar is maklike toegang om die hoek van die hortjies aan te pas om die hoeveelheid lig, ventilasie, privaatheid en son in die ruimte te pas.

4. Sou jy die panele heeltemal wou oopmaak, is dit geriefliker om dit van binne te doen, byvoorbeeld op ’n reëndag.

5. Die algehele voorkoms van die opening sou meer esteties aantreklik wees, veral omdat Shané van die voorkoms van hortjies hou.

6. As veiligheidshortjies oor dié opening geïnstalleer word, sou dit verkieslik wees om toegang tot die slot van binne te hê. Jy kan dit dan ook oorweeg om die diefwering te verwyder vir ’n beter uitsig.

7. Die diepte van die muurruimte voor die venster lyk diep genoeg sodat as die hortjies in daardie nis geïnstalleer word, sal dit gelyk met die muur sit, of selfs ’n bietjie dieper in. Dis ’n baie netjiese installering-resultaat.

8. Onderhewig aan die totale breedte van die vensterraam (wat eers bepaal sal moet word) sou ons ’n tweevoudige installering aanbeveel met twee hortjies wat na regs vou en twee na links. Met dié soort installering sal die panele uitsteek wanneer dit oop is, maar jy sal eintlik net die hortjiepanele oopmaak om die vensters oop te maak en te was. Wanneer jy die dwarsplankies heeltemal oopdraai, laat dit oorgenoeg sonlig in en het jy ’n goeie uitsig na buite.

Hier is ’n foto van ’n opening soortgelyk aan Shané s’n vir ’n idee van die tipe installasie wat ons aanbeveel en om die uitsig deur die dwarsplankies te illustreer. Die reeks in die foto is die Decowood-reeks; dit het nie ’n onsigbare kantelstok.