Vir die vloer

Mariaan Myburgh van Yzerfontein skryf: Ek het ’n nuwe sementvloer wat ek wil bedek; dis baie mooi, maar lyk of dit poreus kan wees. Ek is bang dis moeilik om skoon te maak! Enige raad?

Joanne Sykes, bemarkingsdirekteur by Cemcrete, antwoord: Veelsydige, duursame CreteCote is ’n dun, gekleurde sement-vloerbedekking wat ideaal is vir binnenshuise vloere. Dit word verkry met ’n poeier en katalisator wat saam ’n gladde dekoratiewe laag van 1,6 mm dik lewer. Dis geskik vir gebruik op gladde sementvloere, betonblaaie wat met staal gestryk is of afgevlakte vloere.

Maak seker die vloer is vry van vullis, krake, gate, vet, olie, was, matgom, bitumen en stof, of enigiets wat die hegting kan belemmer. Verwyder enige stof en los materiaal met ’n hoëdrukspuit of ’n stofsuier en harde borsel.

As jy ’n beton- of afgevlakte sementvloer bedek, maak seker die oppervlak is droog, glad, gelyk en stofvry; gee ’n nuwe vloer minstens 28 dae kans om droog te word.

Berei dan die oppervlak voor met twee lae Concrete Floor Primer van Cemcrete; ’n erg poreuse vloer kan ’n derde laag nodig hê. Wend elke laag in die teenoorgestelde rigting as die vorige aan, en laat dit droog word voor jy die volgende laag aanwend. Wag dan 24 uur tot dit droog is voor jy die CreteCote aanwend; gee die CreteCote nog 24 uur om droog te word voor jy die hele vloer minstens twee keer liggies spuit met water (kyk dat die water nêrens opdam nie).

Maak seker die oppervlak is heeltemal skoon en droog (daar moet minder as 5% vog in die vloer wees) voor jy ’n seëlaar aanwend; Cemcrete het ’n groot verskeidenheid vir elke moontlike behoefte. Die seëlaar bereik sy maksimum hardheid gewoonlik ná 7–10 dae.

Wees in dié tyd versigtig en moenie meubels oor die vloer skuif nie; dit kan die bolaag beskadig. Dis raadsaam om liewer viltblokkies onder meubelpote te sit.

KONTAK cemcrete.co.za