Regte behandeling

Maryna Olivier van Joubertina skryf: Ek en my man wil ons kombuiskaste se blaaie van egte swarthout maak; hoe moet ons die hout teen hitte en water behandel?

Frikkie Greeff, besturende direkteur by Woodoc, antwoord: Ons stel voor jy gebruik kleurlose Woodoc Water-Borne Floor Sealer. Dis beskikbaar in ’n mat- en ’n glansafwerking. Omdat dit ’n vloerverseëlaar is, is Woodoc Water-Borne Floor besonder krapbestand; dit sal ook jou blaaie beskerm teen onder meer matige hitte (nie so warm dat dit die hout sal skroei nie), water en alkohol.

Dis belangrik dat jy die hout reg voorberei ten einde die beste resultaat te verseker. Maak seker die hout is heeltemal droog, met geen stof of olie daarop nie. Skuur die hout goed – hoe gladder die hout, hoe beter sal die afwerking wees. Vee dan af met ’n lappie wat met brandspiritus aangeklam is. Laat die oppervlak heeltemal droog word – al die brandspiritus moet verdamp.

Vee weer af met ’n skoon, droë lap. Roer nou die verseëlaar baie goed in die houer met ’n plat plankie of spaan (moenie skud nie). Wanneer dit behoorlik deurgeroer is, doop ’n skoon, droë kwas se hare omtrent twee derdes diep in die blik. Moenie die kwas teen die houer se rand afvee nie – dit druk die kwashare weg van mekaar, wat lug inlaat en borreltjies op die oppervlak veroorsaak wanneer jy dit aanwend.

Laat die oortollige verseëlaar afdrup en wend dit aan in lang, egalige hale in dieselfde rigting as die houtgrein. Doop die kwas gereeld en roer deurentyd die houer. Wanneer die hele oppervlak egalig blinknat is, laat dit droog word en skuur dan liggies met fyn skuurpapier. Vee weer af met brandspiritus, dan met ’n droë lappie en herhaal nog twee keer.

KONTAKwoodoc.com

NUUT OP FACEBOOK
Het jy ’n dringende vraag wat net nie kan wag nie? Sluit dan aan by ons TuislHome-Kennersgroep op Facebook sodat die span, kundiges en ander lesers kan help.