Edna Ellman van Gordonsbaai skryf Die ingang na ons en suite-badkamer is reg by die bed se voetenent. Daar is dus nie plek vir ’n gewone deur nie. Ek is op soek na ’n alternatiewe opsie wat nie baie ruimte in beslag gaan neem of te duur gaan wees nie.

Jenny Collins van Red Cat Design antwoord Daar is twee alternatiewe vir jou dilemma. My eerste voorstel is dat jy jou bed vervang met een wat nie ’n voetstuk het nie. Joune neem omtrent 20 cm waardevolle spasie tussen die bed en die badkamer in beslag.

As jy minder as 70 cm tussen die voetenent en die badkamermuur het, kan jy ’n sagte verdeler soos ’n gordyn oorweeg. Pleks van gewone gordyne wat jy by ’n winkel koop, kyk uit vir ’n pragtige stuk lap met ’n interessante motief; dit sal die ruimte afbaken en terselfdertyd ’n mooi fokuspunt vorm.

Skuifbare paneelblindings aan ’n spoor is ’n stylvolle alternatief vir gordyne. Dis soortgelyk aan vertikale blindings, maar elke lap-paneel is sowat 500 mm breed en jy skuif dit eenkant toe vir toegang tot jou badkamer.

Indien daar minstens 70 cm tussen die voeten- ent en badkamer-ingang is, het jy genoeg spasie om die opening toe te bou; jy kan ’n droëmuur oprig en net ’n opening as deurgang los.

As jy 80 cm of meer tussen jou voetenent en badkamer het, kan jy ’n skuifdeur installeer wat aan die smuktafel se kant oopmaak (’n gewone deur met skarniere sal nie in dié ruimte werk nie). ’n Skuurdeur op ’n spoor is baie gewild, maar ’n hortjiedeur of hortjies sal net so goed werk.

KONTAK redcatdesign.co.za

Die probleem-ruimte

Herwin tweedehandse kothuisdeure.

Groot bederf!
Oorweeg dié hortjies van Taylor Window Blinds (taylorblinds.co.za)

Elegante opsie met gordyne.

Selfdoen-wenk

As jy ’n paar ongebruikte kasdeure of hortjies in die hande kan kry, is dit dalk jou oplossing. Sit een deur met skarniere aan een muur vas, en die ander deur (óf permanent óf ook met skarniere) aan die ander muur. Rolwiele aan die onderkant van die deure sal die oop- en toemaak vergemaklik en ook die deure se gewig dra.