Die uitdaging

MaryAnn Bekker van Calitzdorp skryf Ons bly in ’n ou plaashuis met ’n groot sitkamer langs die eetkamer; dié ruimte het ’n kaggel en maak met ’n houtraam-skuifdeur op die stoep oop. Hoe kan ons die uitleg verbeter? Ek wil ook graag ’n balans tref tussen moderne en plaasstyl-dekor; watter kleure kan ek met bykomstighede inbring wat die meubels sal komplementeer?

 

Die oplossing

Micke de Villiers van ons Welkom Tuis-projek antwoord Danksy die grootte van jou vertrek het jy baie opsies vir die uitleg en funksionaliteit, maar daar is te veel individuele stukke wat glad nie met die algehele styl praat nie. Hier is ’n paar voorstelle:

Uitleg

Hoekom nie van jou kaggel ’n fokuspunt maak nie? Jy kan die dekoratiewe spieël afhaal en die omranding ’n meer moderne afwerking gee – koperbekleding, ’n afvlaklaag of houtmantel sal die ontwerp komplementeer. Of jy kan die eenheid vervang met ’n smeulkaggel met ’n glasdeur. Oorweeg ’n voetstuk van wit marmer by die basis van die kaggel – dit is dekoratief én funksioneel. Dit, saam met jou tradisionele meubelstukke, sal die moderne plaasstyl skep wat jy graag wil hê.

Vir balans met die imposante kaggel kan jy ’n groot, gemaklike rusbank regoor dit plaas. Probeer liggrys saam met jou duifgrys kuipstoele. ’n Groot (3 x 4 m-) mat met blougrys skakerings in ’n Persiese ontwerp sal ook die sit-deel anker, en warmte en tekstuur inbring. Vir meer simmetrie kan jy die blou fluweelstoele aan weerskante van die skuifdeur plaas.

Palet  

Jy het reeds ’n goeie neutrale palet om mee te werk. ’n Spatsel donkerblou of ’n warm donkergrys aan weerskante van die kaggel sal goed werk. Die wit vloer-, portret- en plafonlyste verleen interessante detail.

 

Dekoratiewe elemente

Skaf met verloop van tyd artikels aan wat die ruimte meer huislik sal laat voel. Dink aan strooikussings en dekens vir tekstuur en interessante patrone – maar hou by skakerings van wit, grys en blou; kies oorgroot reghoekige strooikussings (dis nou hoogmode) met een in ’n treffende patroon om ’n stelling te maak; oorweeg ook ’n kunswerk bo die dientafel. 

Laaste, maar nie die minste nie: Vervang die liggie uit die plafon met ’n groot, moderne hanglamp in die middel van die vertrek. Ons stel iets voor met glas of goue detail wat lig weerkaats. ’n Moderne skerm sal ook die kaggel se ontwerp komplementeer en is perfek vir ’n kontemporêre plaasstyl.

KONTAK welcomehome.co.za 

Sketse Eugene Human

Jou droomhuis begin hier

Het jy ’n dekordilemma by jou huis wat ’n kenner se raad kort? Dan is Tuis se nuwe eenstop-ontwerpdiens Welkom Tuis die antwoord vir jou. Kies uit drie pakkette en ons voorsien jou van ontwerp-idees vir enige ruimte wat jy graag wil oormaak – of dit nou ’n slaapkamer of sitkamer is wat ’n vars voorkoms nodig het, of ’n kombuis of badkamer wat ’n algehele opknap moet kry. 

1 Besoek welcomehome.co.za/af/

Klik op SPRING WEG en kies die ruimte wat ’n opknap nodig het.

2 Vul die vraelys in

Wanneer jy die vraelys voltooi en jy jou pakket gekoop het, sal ’n professionele binneontwerper aan jou ’n boks stuur met vloer­planne en sketse, monsters van elemente soos vloerbedekkings, werkvlakke, gordyne en stoffering, asook verfkaarte en ’n lys meubel-voorstelle – dis jou handleiding waarmee jy jou ruimte gaan vernuwe. 

3 Jou persoonlike ontwerp­oplossing word afgelewer!

Jy kry 15% afslag op alles wat jy koop uit die voorstelle in die boks. Die boks betaal as’t ware homself!