Cynthia Bergh van Kroonstad skryf Ek het ’n lang, smal kombuis en soek raad oor hoe ek kleur kan inbring sonder dat die kombuis nog kleiner lyk. Ek wil nie die kaste vervang nie, maar wil graag die deure se kleur verander – moet ek by wit hou? Kan ek die agterdeur en stoele ook wit verf om ’n eenheid met die res te vorm? Help asseblief!

Germarie Bruwer en Margaux Tait gee raad Dis altyd ’n uitdaging om ’n klein ruimte oor te doen. ’n Goeie reël is om al jou vertikale oppervlakke, soos deure en mure, lig en sonder tierlantyntjies te hou. ’n Ligte kleur op die kasdeure en agterdeur sal die voorkoms heeltemal vernuwe en ophelder. Jy kan dan mooi toonbanke, helderkleurige bykomstighede en sagte meubels gebruik om spatsels kleur in te bring. Saam sal hierdie klein veranderinge 'n groot verskil maak ...

Die kaste

Die maklikste manier om die illusie van groter ruimte te skep, is deur ligte kleure te gebruik. Die muurteëls is reeds neutraal; as jy die kaste in ’n ligte kleur verf, sal dit onmiddellik die ruimte “oopmaak”.

Verf gelamineerde deure eers met ’n spesiale onderlaag soos Plascon Tile and Melamine Primer; gebruik dan waterbasisemaljeverf met ’n sagte glans vir ’n gladde afwerking wat maklik skoonvee.

Probeer Dulux PearlGlo Waterbased in Subtle Ivory 4 – dis ’n effens warmer wit; verf ook die karkasse daarmee vir ’n naatlose voorkoms.

Die toonbanke

As jy die kombuistoonbanke wil vervang, oorweeg melamien. Melamienblaaie met geronde rande is nie net hitte-, chemikalie- en splinterbestand nie, maar ook bekostigbaar. 

Handvatsels

Nuwe handvatsels vir kaste is nog ’n eenvoudige manier om ’n kombuis op te kikker. Vervang joune met aluminium- of wit handvatsels.

Die agterdeur

Verf die agterdeur se raam in dieselfde kleur as die kaste en verf die binnekant van die raam met swart chalkboard paint. Dit sal die deur met die muur laat saamsmelt terwyl dit ook as ’n skryfbord dien.

Kleur in die bykomstighede

Met die oog op uitstalruimte kan jy die muur-area bo die wasbak “breek” met twee swewende wit rakke. Buiten dat dit ekstra pakplek bied, is dit ook perfek om kleurryke bykomstighede uit te stal wat die kleure van die stoele, mat en blinding herhaal.

Vir ekstra beligting wat nie die ruimte oorheers nie, hang ’n subtiele lig bo die kombuistafel.

Die stoele

As jy die stoele wit verf, sal die hout van die tafel en nuwe werkoppervlakke mooi daarmee kontrasteer. Skuur eers die stoele en wend ’n universele houtonderlaag aan voor jy dit in dieselfde kleur as die kaste verf vir afronding. Kies mooi oortreksels of kussings wat by die res van jou mooi "nuwe" kombuis pas.