Die probleem

Moira Strydom van Roodepoort skryf Ons het ’n tuiskantoor (in sy vorige lewe ’n dubbelmotorhuis), maar dit het nou stoorplek geword vir alles wat nie plek in die huis het nie. Ek wil dit graag as ’n gastekamer inrig; daar is reeds ’n badkamer. Die plan is om ’n bed met bedkassies, en dalk ’n stoel of twee in te bring en die beligting te verander. Ek oorweeg ook blou as aksentkleur. Wat dink julle?

Die oplossing 

Jenny Collins van Red Cat Design antwoord As jy dié ruimte se volle potensiaal ontgin, sal dit beslis waarde tot jou eiendom toevoeg. Hier is ’n paar idees:

Meubels 

As jy genoeg plek het, koop twee driekwartbeddens wat apart gebruik kan word óf teen mekaar geskuif kan word vir ’n koninggrootte-bed. Kies wit beddegoed en bring blou en groen skakerings in met strooi­kussings en ’n tekstuurryke deken oor die bed se voetenent. ’n Blou gestoffeerde kopstuk met diep knoopdetail sal gemak en ’n gevoel van weelde skep.Twee eenvoudige sweefrakke of staan-skinkborde in wit of ’n ligte hout (MRP Home het bekostigbare opsies) sal goed werk as bedkassies. 

Dekor 

Oorweeg ’n bedlampie met ’n basis van satynchroom of glas, en ’n patroon-lampkap wat skakerings van blou en groen bevat. Vervang die gordynreling met een in satynchroom en hang nuwe gordyne in ’n tekstuurryke wit, blou of groen lap, of kies bedrukte lap met al daardie skakerings. Jy kan die hooflig maklik vervang met ’n mooi hanglamp of kandelaber. As jy iets meer eenvoudigs wil hê, laat gesonke plafonligte installeer deur ’n elektrisiën.Kry ’n groot mat vir warmte onder die voete (teëls kan koud voel) en plaas ’n gemakstoel in een van die hoeke. Rond die prentjie af met mooi prente in rame van ligte hout, hang ’n spieël (verkieslik vollengte) en bring ’n plant in vir ’n bietjie groenigheid. 

Kleur

Ek stel voor jy kies ’n basis van vars wit met blou en groen aksente. Dié rustige, gesellige palet is ideaal vir gaste wat ’n wegbreekkans nodig het. Skep ’n skoon agtergrond deur die deure, kroonlyste en plafonne wit en die mure ’n warm naaswit te verf. Haal die boekrakke en lae kas uit, maar hou die groot hangkas en sit ’n klerereling in. Gaste kan dit dan vir hul klere gebruik en jy kan ekstra linne en handdoeke daarin bêre. Verf dit wit. Iindien dit ’n melamienkas is, gebruik ’n geskikte onderlaag soos Plascon Tile & Melamine Primer of Dulux Supergrip; of kies eenvoudig ’n krytverf soos Tjhoko Paint. Vervang dan ook die handvatsels met iets soos satynchroom-deurknoppe.

In die badkamer 

Verf die wasbakkas wit en vervang die donker toiletsitplek met ’n witte om die ruimte op te helder. Oorweeg ook om die handdoek­relings en toiletrolhouer met nuwes van satynchroom te vervang, en vervang die gordyne met wit Venesiese blindings of ’n Romeinse blinding in ’n kleur wat by die palet in die vertrek pas. Kies ’n sagte matjie en blou en groen handdoeke. Rond die vertrek af met prente in wit rame, ’n groot spieël agter die wasbak en ’n vaas met vars blomme. 

KONTAK Red Cat Design  

SKETSE Eugene Human