Dekordilemma

Sally Smith van Plumstead skryf: Ons het onlangs van ’n klein woonstel na ’n taamlik groot huis getrek en wil graag die kombuis opknap. Die vertrek word van die leefarea geskei deur twee mure, wat ons wil uitbreek. Ons is net bekommerd dat so ’n oopplan-uitleg ’n massiewe ruimte gaan skep – iets waaraan ons nie gewoond is nie. Ons is nie seker hoe ons so ’n ruimte moet inrig om die beste vloei te bewerkstellig nie. Het julle raad?

OPSIE 1

Hanno de Swardt van Onnah Design stel voor: Deur nie net die kombuismure uit te breek nie, maar ook die studeerkamer s’n, sal julle die ruimte ten beste gebruik en die vloei heelwat verbeter.

1. Skep ’n pajama-ruimte waar die kombuis tans is, met ’n ingeboude boekrak as afskorting. So ’n ruimte is apart van die leefarea, maar danksy skuifdeure aan albei kante kan dit oopgemaak word en deel van die kombuis en hoof-sitarea raak. Dis die perfekte plek vir TV kyk.

2. Skuif die kombuis nader aan waar die studeerkamer nou is en omskep laasgenoemde in ’n was- en opwashoekie. Dit sal dan buite sig wees en is ideaal vir minder mooi toestelle soos die wasmasjien en tuimeldroër.

3. Rig die kombuis skuins oorkant die leefvertrek in. Laat die eiland en eetkamertafel ’n eenheid vorm – deels om plek te bespaar, maar ook as ’n sterk kontemporêre ontwerpelement. Dit beteken ook die eetkamertafel sal naby die kaggel wees. Die stoofplate en ooghoogte-oond is dan naby die yskas, ingeboude mikrogolfoond en groentewasbak.

4. Omskep die ongemaklike ruimte wat na die gang lei in ’n klein kroeg.

Hierdie uitleg is die toppunt van oopplan-leef, daarom sal dit nie vir almal werk nie. Ek noem dit ’n eerlike leefwyse: Als wat jy doen, is in die oog. – Hanno

WENKE VIR AFWERKING

  • Kies een vloerafwerking vir die hele ruimte om eenvormigheid en visuele samehang te bewerkstellig – saamgestelde hout of viniel met ’n houtvoorkoms kan goed werk.
  • Oorweeg deursigtige gordyne aan ’n gegolfde spoor as vensterafwerking, met opsionele uitblok-rolblindings. Dit sal ’n sagtheid verleen en skerp sonlig uithou.
  • Hou die kleure van jou mure, vloerlyste en gordyne lig en neutraal om die vertrek so ruim moontlik te laat lyk en dit ’n tydlose gevoel te gee.
  • Kies skoon en kontemporêre meubelstukke, ook in neutrale skakerings; voeg dan na hartelus kleur en tekstuur by met los matte, kussings en dekens.
  • Moenie te veel fokusmure skep nie, want dit kan visueel steurend wees in so ’n oop ruimte. Lei die oog na net enkele sleutelelemente, soos die kaggel.
  • Donkerder granietblaaie sal ’n sterk kontras met ander afwerkings vorm.
  • Melamien is bekostigbaar en te kry in ’n magdom kleure. Kies ’n liggrys vir die onderkaste en donkerder grys vir dié van die vloer tot die plafon. Kies vingergrepe bo handvatsels – dit sal die skoon voorkoms afrond.

KONTAK onnahdesign.co.za

OPSIE 2

Mpho Vackier van DesignPeo stel voor: Gebruik die ekstra spasie wat julle wen deur die mure uit te breek om ’n groot eiland in te sit, en skep goed afgebakende leefruimtes daarrondom.

1. Brei die kombuis uit met ’n lang eiland waarin heelwat pakplek ingebou is – dit vergoed vir die kasspasie wat julle verloor wanneer die kombuismure uitgebreek is. Met ’n groot eiland kan meer as een mens ook kos berei, en dis boonop ’n gesellige kuierplek wanneer julle onthaal. Hierdie uitleg is eenvoudig en prakties – dit skep reguit bewegingslyne tussen die stoof, yskas en wasbak.

2. Plaas die eetkamertafel naby die kombuis vir maklike beweging tussen die twee ruimtes. Terwyl die gesin hul informele etes by die toonbank aan een kant van die eiland kan geniet, laat die ruimte julle toe om ’n groot tafel daar naby te plaas vir wanneer meer mense saamkuier.

3. Rig die sitgedeelte rondom die kaggel in – perfek vir ontspan ná ete.

4. Omskep die bestaande studeerkamer in ’n speelkamer. Sodoende bly jy deel van wat ook al in die res van die oopplanruimte gebeur terwyl jy in die kombuis besig is – ’n groot voordeel, veral as jy kinders het.

Dié uitleg wys hoe mooi en gemaklik ’n oopplan-leefvertrek kan wees. – Mpho

WENKE VIR AFWERKING

  • Baken die onderskeie funksionele dele in die oopplanruimte af met behulp van matte – dit verdeel die vertrek visueel in hanteerbare ruimtes en hou die geheel gesellig.
  • Kleur kan ook gebruik word om die geheel bymekaar te bring – bedek al die mure met een neutrale kleur, maar rig elke sone met sy eie dekor in.
  • Skep drama met beligting: groot, vormlose hanglampe bo die eiland, ’n mediumgroot tros moderne, minimalistiese lampe bo die eettafel en verdofbare plafonliggies en vloerlampe in die res van die ruimte.
  • Kies donker sintetiese kwarts vir die werkblaaie langs die opwasbak (met bypassende donker kasdeure), ’n ligter skakering vir die eilandblad, en ’n soliede houtblad vir die eettoonbank by die eiland vir kontras en tekstuur.

KONTAK designpeo.co.za