Die uitdaging

Marelize de Villiers van Prieska skryf

Ons bly op ’n plaas en wil graag lekker gemaklike stoepmeubels en ander praktiese dekor aanskaf vir ons 6 x 4 m-stoep (foto 1).

Ons bring baie tyd daar deur, maar dit kom glad nie tot sy reg nie. Ons het ’n binnebraai in die leefvertrek (foto 2), daarom is ’n braai buite nie nodig nie.

Hier is ’n paar van ons uitdagings:

  • Groot stapeldeure maak op die stoep oop. Ons eetkamertafel staan langs dié deure, daarom is ’n groot etenstafel op die stoep nie nodig nie. Die behoefte is meer ’n plek vir kuier, koffie drink of lekker ontspan met ’n boek.
  • Spinnekoppe maak in elke denkbare gaatjie of gleufie nes. Ons is dol oor mooi geweefde meubels en rottang, maar met die goggas sal dit ’n permanente taak wees om dit skoon te hou. Wat stel julle voor?
  • Ons het wel ’n ou Oregondennehout-werkbank wat ons uit die plaasskuur gered het; ek wil dit graag mooimaak en op die stoep gebruik. Die blad en pote is in ’n goeie toestand, maar die rak onder is vol olievlekke wat ons herhaaldelik met suikerseep gewas het en in die son laat staan het om die olie te probeer uitkry, sonder sukses.
  • Ons leefvertrek is taamlik donker, so ons wil dit graag verf. Ons het tans ’n donkerrooi fokusmuur, maar ons is nou moeg daarvoor. Ek wil graag die fokusmuur ’n sagte groen verf, wat die vertrek ligter sal laat vertoon. Maar watter groen sal saam met die meubels werk (ons meubels is donkerbruin leerbanke, en ons is mal oor hout) en wat gebruik ek op die res van die mure?
  • Nog ’n stukkie dak is oor die deel regs van die stoep aangebring. Omdat die gras daaronder nie son kry nie, het dit gevrek. Wat maak ons nou? Ons het te min van die stoep se klipteëls oor om die 2 x 6 m-oppervlakte te bedek.

Die oplossing

Jenny Collins van Red Cat Design antwoord ...

’n Groot, oordekte stoep is ’n wonderlike bonus – dis soos ’n ekstra vertrek! As rottang-buitemeubels nie ’n opsie is nie, is jou keuses nogal beperk en sal jy ’n bietjie kreatief te werk moet gaan ... 

1 Meubels

Kyk vir eenvoudige buitemeubels met gemaklike los kussings. As jy graag lekker op die stoep wil opkrul, kies twee klein tweesitplekbanke pleks van leunstoele; bedek dit met ’n los oortreksel van buitelap sodat dit prakties is vir alledaagse gebruik.

’n Koffietafel is ook ’n slim kopie (dit kan selfs net ’n ou trommel wees) en snuffel rond in tweedehandswinkels vir ’n groot dagbed van staal of hout.

Voeg kussings in mooi oortreksels en ’n sagte, tekstuurryke deken by vir ekstra detail.

2 Verfkleure

’n Sagte groen sal die donker kleure van jou bestaande meubels mooi komplementeer. Saam met ’n warm, neutrale naaswit sal dit die vertrek ook ophelder. Verf gerus die agterste muur met die ingeboude braai groen, maar hou die res van die mure neutraal. Om die vertrek ligter te laat voel kan jy die dennehoutbalke wit verf, of afwit sodat die grein nog sigbaar is.

Verfkleur-voorstelle

Koop toetspotjies en verf blokke van 1 x 1 m in die ruimte; die liggehalte in ’n vertrek het ’n groot uitwerking op kleur!

3 Werkbank

Verfverdunner behoort die olievlekke op te los; andersins kan ’n materiaal met ’n kleibasis, soos vollersaarde (Fuller’s Earth), ook werk. As geeneen werk nie en dit help ook nie as jy dit afskuur nie, kan jy dalk die onderste rak verf.

Plaas die werkbank teen die muur aan die kant van die stoep; maak seker dit belemmer nie die stapeldeur se oop- en toemaak nie. Anders kan jy dit tussen die venster en pilaar buite neersit om die klein oordekte deel te definieer.

4 Knus hoekie

’n Laeonderhoud-oplossing vir die gras-dilemma onder die stukkie dak is gruis of klippies. Rond die rande af met die stoepteëls wat jy oor het om die twee areas met mekaar te verbind.

Skep ’n sithoekie met twee duursame Adirondack-stoele, en plant skaduliewende plante in los of geboude plantbakke om die hoekie lewe te gee.

Nog planne

  • Oorweeg ’n vuurput op die gras voor die patio.
  • Kerse in glas-stormlanterns op die stoep sal lieflik sagte lig verskaf. 

KONTAK redcatdesign.co.za