Die uitdaging

Ronell Ferreira van George skryf: Ons het huis gekoop in George en ek sukkel al ’n rukkie om ’n praktiese dog mooi plan te maak vir ons opwasarea en waskamer.

Die opwasarea is net langs die kombuis. Die waskamer is aan die ander kant van die kombuis en dit is waar die wasmasjien, tuimeldroër en skottelgoedwasser staan. Daar is ook ’n toilet en stort in dié vertrek. Ek dink dit was eers ’n buitevertrek wat die vorige eienaars deel gemaak het van die huis.

Die waskamer werk goed waar dit is, maar die deur na die braaikamer moet toegebou word. Die vertrek is van dak tot vloer geteël. Met die enigste toilet op dié vlak sal dit ’n goeie gastebadkamer maak.

Ons kan nie nou bou en breek nie, daarom moet ons die beste maak van die ruimtes wat ons het.

Die oplossing

Die Tuis-medewerker Shelly Bergh antwoord: Ek stel voor jy skuif die skottelgoedwasser uit die waskamer na die opwasarea; só is dit makliker om met skottelgoed in een area te werk en die waskamer bly vars en skoon soos ’n waskamer moet.

1 Waskamer

Die teëls in dié vertrek is nou hoogmode – gebruik dit in jou guns! Bou ’n werkblad oor die tuimeldroër met ekstra plek onder om ’n wasgoedmandjie te huisves. Gebruik die kaste bo die wasmasjien om dinge soos wasgoedpoeier en ander onooglike items te bêre, maar verf dit ’n dramatiese matswart. Jy kan die oppervlak net so verf met krytverf, of berei dit voor met Plascon se Tile & Melamine Primer en verf dit dan met Plascon se waterbasis-Velvaglo. Jy sal die kaste wel moet skoonmaak voor jy enige verf aanwend: Was dit met suikerseep en skuur liggies sodat die verf kan klou. Maak seker jy verwyder enige stof nadat jy geskuur het en voor jy verf.

2 Toilet

As jy die toiletvertrek as gastebadkamer wil inspan, kan jy ’n skuurdeur aan ’n spoor hang vir privaatheid. Hoity Toity Furniture hou ’n groot reeks met die nodige ysterware aan, en lewer landwyd af. Hang ’n pragtige spieël bo die wasbak in die badkamer en installeer hake vir handdoeke. Rond die ruimte af met mandjies, huisplante en ’n lopermat.

Kleurkeuse

Verf al die deure in die vertrek dieselfde kleur. ’n Dowwe pienk soos Plascon Kisses for You kan goed werk. Gee die plafon ’n vars laag wit verf en was die teëls met suikerseep as dit gevlek is. Verf die vensterraam wit en installeer ’n wit rolblinding om die prentjie af te rond.

3 Opwasarea

Ek dink jy moet al die ingeboude kaste uithaal, behalwe die een onder die wasbak. Vervang net sy deure en maak plek vir die skottelgoedwasser sodat dit onder die wasbak kan pas. Teël die area agter die wasbak met wit 10 x 10 cm-teëls om dié in die waskamer te eggo. Koop ’n losstaande klerekas met drie deure en sit dit daar waar jy die ingeboude kaste uitgehaal het. Installeer rakke waar die dubbeldeure is en gebruik dit as spens; die enkeldeur-deel kan dien as ’n besemkas. Verf dit wit of behou die oorspronklike hout-voorkoms.

Kleurkeuse

Verf al die mure wit, behalwe agter die wasbak. Daardie muur sal mooi lyk in ’n liggrys soos Plascon Light Grey Aluminium. Verf die agterdeur dieselfde kleur as die waskamer se deure om vloei tussen die onderskeie ruimtes te skep. Verf die vensterraam wit.

Kopies

1. Muurhake van fluweel en metaal R159,99, mrphome.com

2. MDF-skuurdeur met spoor en hangers R3 750 (afleweringskoste uitgesluit), hoitytoityfurniture.co.za

3. Serious Cook-vadoeke (pak van 3) R160, woolworths.co.za

4. Kombuisrak met diamantpatroon R449, superbalist.com

5. Umhlanga- geometriese mandjie R799,99, mrphome.com

6. Spekboom-mosbal (15–20 cm H x 25 cm D) R320, plantify.co.za

KONTAK shellybergh@gmail.com