Vir al my idees

Danielle Brown van Blouberg skryf Dankie vir die uitstekende TV-program 1,2,3 fixit! Ek was baie beïndruk met die huiseienaar, Annelie Carstens, se inspirasieborde. Ons beplan self ’n paar opknapprojekte en ek wil ook borde maak om struktuur te gee aan al my idees. Hoe moet ek te werk gaan?

Die dekorkenner en stilis Kim Bougaardt antwoord ’n Inspirasiebord is ’n waardevolle hulpmiddel met foto’s en selfs lapmonsters wat die voorkoms en styl uitbeeld wat jy graag in ’n bepaalde ruimte wil skep. Volg dié stappe wanneer jy ’n inspirasiebord maak: Annelie se inspirasieborde, soos gesien op die TV-program 1,2,3 fixit!, was ’n mengsel van foto’s met aantekeninge oor fokuselemente wat sy in haar eie huis wou hê.

1 Kies jou formaat

Karton ’n Inspirasiebord hoef nie ’n regte stuk karton soos Annelie s’n te wees nie, maar met dié metode het jy die plesier van ’n tasbare ervaring – as jy byvoorbeeld lapmonsters of plakpapier insluit, kan jy daaraan voel. Dis ’n uithaal-en-wys-voorstelling van hoe die vertrek op die ou end sal lyk.

Pinterest Dié digitale platform is die beste opsie as jy nie lus het vir “spoeg en plak” nie. Maar pasop, die magdom inspirerende foto’s wat in dié app beskikbaar is, kan jou oorweldig. En onthou, die kans is goed dat baie afwerkings en toebehore wat jy sien, nie noodwendig in Suid-Afrika beskikbaar is nie. Verskillende borde op Pinterest kan jou aan die begin van die proses help om makliker besluite te neem; daarna kan jy jou keuses verfyn en een finale bord vir jou droomprojek opstel. Indien jy ’n groot onthulling beplan, maak jou borde privaat. Andersins kan jy dit oopstel sodat jou vriende in die pret kan deel.

Ander digitale opsies Probeer kreatiewe hulpmiddels soos SketchUp, of apps soos Morpholio Board, Adobe Spark, Milanote of Canva.

2 Bepaal jou styl

Wanneer jy foto’s – uit tydskrifte soos Tuis of van jou reise – en lap- of teëlmonsters of verfkaarte begin bymekaarmaak, besef jy dalk jy hou van ’n verskeidenheid style. Die aardse keistene in ’n romantiese agterplaas maak dalk jou innerlike Frankofiel wakker, terwyl ’n Art Deco-stoel in gestreepte lap dalk jou prettige sy verklap. Gelukkig is eklekties ook ’n styl, en dis presies hoekom ’n inspirasiebord so ’n uitstekende hulpmiddel is.

Kies en bêre alles wat jou opval en begin elimineer dan. Só kan jy eksperimenteer met kleure, teksture en aksente voor jy jou beursie uithaal. En onthou, al het jy nou nog daardie stel nestafeltjies uit die vyftigerjare wat jy by jou gunsteling-tannie geërf het, hoef jou hele ruimte nie in daardie styl ingeklee te wees nie. Die foto’s wat jy bymekaarmaak, sal boekdele spreek – luister na hulle!

3 Kies jou gunsteling-element

Wanneer jy jou inspirasiebord saamstel, fokus op een groter foto wat die beste by jou visie pas, en bou die res van die elemente soos meubels, beligting, dekorbykomstighede en aksentkleure daarrondom. Wanneer dit tyd raak vir inkopies sal dié foto jou help om jou visie aan verskaffers te verduidelik. Neem ’n foto van jou hele bord sodat dit altyd byderhand is en jy op detail kan inzoem.

4 Kleur is belangrik

Jou kleurkeuse kan ’n vertrek maak of breek. Versamel kleurkaarte by ysterwarewinkels en plak dit op jou bord. Maak ook dubbel seker van die name van verfkleure wat jy in tydskrifte raaklees, maar onthou: Die hoeveelheid en soort lig wat jou vertrek kry, sal beïnvloed hoe daardie kleur in jou eie ruimte gaan lyk.

5 Implementering

Wanneer jy klaar is met jou inspirasiebord, kan jy begin kyk na monsters vir teëls en ander hardeware soos deurknoppe of vinielvloere wat jy kan huis toe neem sodat jy kan sien hoe dit vertoon in die ruimte waar dit gebruik sal word. Toets dit in verskillende tipes lig, veral verfkleure. En wanneer jy toetsblokke teen ’n muur verf, maak seker dis minstens 50 x 50 cm groot. As jy tevrede is, laat waai!

KONTAK kimbou007@gmail.com

Vra op Facebook
Het jy ’n dringende vraag wat net nie kan wag nie? Sluit dan aan by ons Tuis I Home- Kennersgroep op Facebook sodat die span, kundiges en ander lesers kan help.