Jaco Coetsee van Durbanville skryf Ons is besig om twee slaapkamers in ons huis in te rig as kinderkamers. Watter vloer sal die beste werk: gelamineer of viniel? 

Sasha Kozinsky, besturende direkteur by FinFloor, antwoord In ’n kind se kamer wil jy ’n vloer hê wat duursaam is en maklik skoonmaak. Een met ’n houtvoorkoms is tydloos, en jy kan die dekor aanpas namate die kinders ouer word. Albei genoemde vloere is anti-allergenies, maklik om skoon te maak en te onderhou. Oorweeg die volgende:

Die voordele van viniel

Duursaamheid

Viniel word in die algemeen as duursaam beskou; as dit reg geïnstalleer en onderhou word, kan dit tot 20 jaar hou. Die gehalte van die materiaal wat jy koop en hoe dit vervaardig is, sal bepaal hoe goed jou vloer gaan vaar. Die duursaamheid van gedrukte viniel hang af van hoe sterk die deursigtige beskermingslaag is, maar dit kan krapmerke en kepe kry en is geneig om in te duik onder ’n swaar gewig.

Min onderhoud

Daar is nie baie vloere wat so min onderhoud soos viniel vra nie. Jy vee met ’n besem om van vullis ontslae te raak, en verwyder vlekke met ’n klam mop en goedgekeurde viniel-skoonmaakmiddel.

Waterbestand

’n Goed geïnstalleerde vinielvloer is amper heeltemal bestand teen water wat daarop val, wat dit perfek maak vir enige vertrek waar vog voorkom. Sekere soorte nuwegenerasie-viniel is heeltemal waterbestand van bo én onder en is daarom die beste keuse vir ’n nat vertrek.

Grootste gemak

Viniel raak nie koud in die winter nie en is in die algemeen sagter onder die voete as hout of keramiekteëls. Vlekbestand Gedrukte vinielteëls en -velle het ’n deursigtige laag wat die vloer teen vlekke beskerm.

Maklike installering

Vinielvloere is relatief maklik om te installeer, maar jy moet seker maak jou ondervloer is heeltemal skoon en gelyk.

Hoekom ons van gelamineerde vloere hou

  • Moderne gelamineerde vloere is aantreklik, veelsydig en duursaam, en kry nie maklik krapmerke en kepe nie. Vergeleke met viniel is dit minder vatbaar vir skade deur stiletto-hakke. Dié vloere is te kry in verskeie diktes (8–12 mm) met verskillende Abrasion Class- (AC) graderings – van AC1 vir ruimtes wat min voetverkeer moet dra tot AC5 vir kommersiële gebruik – asook vyf Fit For Use-graderings wat aan streng kriteria moet voldoen om die gradering wat daarop van toepassing is, te behaal.
  • Vloere met laer AC-graderings kos dalk minder, maar dit sal nie so lank hou nie. Die lewensduur hang af van baie faktore, soos die digtheid van die kern of substraat vir beter impakweerstand, die hoeveelheid en tipe voetverkeer wat dit kry, en hoe dit onderhou word. In ’n huis met troeteldiere of klein kinders sal ’n hoër AC-gradering ’n langer leeftyd verseker.
  • Gelamineerde vloere word beskerm deur ’n sterk buitelaag wat gewoonlik deurtrek is met aluminiumoksied – dit maak die oppervlak sterk, krapbestand en duursaam. Dis ook bestand teen verbleiking deur die son. As jy klein kinders of troeteldiere het, of as jou vloer baie voetverkeer kry, is ’n gelamineerde vloer die perfekte keuse.