Sandra Wessels van Makhanda skryf Ons beplan om ’n huis op ons familieplaas te bou en al gaan dit nie groot wees nie, wil ons steeds seker maak die kombuis is goed beplan, aangesien ons baie van ons tyd daar gaan deurbring. Enige raad?

Bronwyn Shell, bemarkingskonsultant vir The Eclipse Group, antwoord Goeie werkvloei, ruimte-benutting en gemaklike beweging is die drie sleutel-elemente van ’n praktiese kombuis. As jy al drie in ag neem, sal jou kombuis in al jou behoeftes voorsien.

1 Werkvloei

Dink in die vroeë beplanningsfase aan die tipiese prosesse in die kombuis. ’n Goed beplande kombuis kan jou lewe soveel makliker maak. As jy beplan om kos en skoonmaakmiddels in verskillende sones te akkommodeer, en dele wil afbaken vir voorbereiding, kook en skoonmaak, sal jy jou tyd in die kombuis meer geniet, want dan sal alles op die regte plek wees. ’n Werkvlak met ’n toegewyde bereidingsarea moet minstens 90 cm breed en verkieslik tussen die stoof en wasbak wees.

2 Ruimte

Vereistes vir pakplek hang af van jou leefstyl, hoe groot jou gesin is, hoeveel jy kook en jou koopgewoontes. Maak seker jy beplan genoeg plek vir al jou kombuisware, kruideniersware en toestelle. Met die regte bêreplek-oplossings kan jy heelwat ruimte benut wat andersins verlore sou gaan. Laaie pleks van onderkaste met rakke skep toeganklike pakplek en jy hoef nie laag af te buk om binne-in te sien of artikels daaruit te haal nie.

3 Beweging

Besoek toonlokale – só kry jy ’n goeie idee van hoe die kaste werk. Meubels wat maklik oopmaak en sagkens toegly, dra alles by tot ’n pragtige, praktiese kombuis.

KONTAK eclipsegroup.co.za