Sonja Klopper van Wellington skryf: Ons het ’n strandhuis wat ons tans verhuur, maar ons beplan om in die toekoms self daar te gaan woon. Ek het al begin om mooi beddegoed en gordyne te koop en kort raad oor hoe ek dit moet bêre. Moet ek dit uit die verpakkings haal, was en dan in plastiekkratte wegpak?

Die stilis Isabel Barends antwoord: Jy hoef nie die linne te was nie – dit moet net skoon en droog wees wanneer jy dit wegpak. Die belangrikste is dat dit teen die elemente beskerm word, veral by die see, waar die risiko vir muf groter is. Maak ook seker dit word nie aan sonlig of enige chemikalieë blootgestel nie.

Plastiekkratte (hoe digter dit sluit, hoe beter) is dus ’n goeie idee. Kyk ook uit vir produkte soos silika-jel (leratosa.co.za of wantitall.co.za) wat humiditeit in kaste verminder en muf voorkom.

Die ander risiko is vismotte. As jy nie motballe wil gebruik nie, plaas koekies seep tussen die linne – dan ruik die linne sommer ook lekker wanneer jy dit uithaal.

KONTAK info@lovelemon.co.za