Vir Jan Alleman is dit die rug waarop alle produkte die winkelsentrums ingedra word. Vir die selfdoen-entoesias: Absolute ekstase.

Die idee dat jy besig is om jou meubelstuk te maak uit iets wat andersins op die ashoop sou beland, is inherent die mooi van palethout en net een van die redes waarom palet-projekte so gewild is. Die karakter van die hout maak ook dat jou projekte uniek is en werk normaalweg goed vir die van ons met ’n rustieke styl.

’n Bietjie meer oor palette:

Waar kry ek palette?

Ysterwarewinkels het soms voorraad, maar ek sal self verder soek na besighede wat spesialiseer in die herwinning van palette. Hulle het gewoonlik palette wat reeds afgebreek is en jy kan jouself só ’n bietjie moeite spaar. Krap ’n bietjie verby die eerste twee bladsye op Google en jy sal verbaas wees wat jy vind.

Hoe breek ek palette af?

Die planke wat jy wil gebruik, is aan houtblokke vasgespyker, en dié is vasgespyker met die doel om nie los te kom nie. Om Dawid van Jonathan te skei sit nie in enigiemand se broek nie. Daar is verskeie maniere om jouself hier goed van jou taak te kwyt, maar uit my ervaring kan jy met ’n woelyster en hamer op die regte plek tik en daarmee aansienlik meer bruikbare planke as met ander metodes hê. Vind meer oor hierdie tegniek op YouTube.

Wenk 1: Minder is meer; die planke is geneig om te breek, so werk rustig met daai hamer.

Wenk 2: Swaai ’n ou luidsprekermagneet aan ’n tou oor jou vloer nadat jy met palette gewerk het. Dit tel sommer die spykers vir jou op.  

Watter palet moet ek kies?

Kies palette met dik planke en planke wat so uniform moontlik is. Ek verkies gewoonlik EPAL- (Europese) omdat dit met hitte pleks van chemikalieë behandel is om goggas uit te hou, en omdat dié planke heel geskik is vir die tipe projekte wat ek doen. Dit kan wel aan die duur kant wees.

Probeer palette soek wat so skoon moontlik is. ’n Mens weet eenvoudig nie waar palet se kind hom al in sy lewe bevind het nie, en nog minder wat hy saam met hom dra. Vermy ook palette wat geverf is omdat dit dikwels gebruik word om chemikalieë te vervoer, en daarom in aanraking daarmee kon wees.

Hou die volgende in gedagte:

  • Palette word behandel om lank te hou, die meeste met organiese stowwe, maar sommige nie. Probeer dus alles moontlik uitvind van die palet waarmee jy werk. As jy enigsins bedenkinge het oor die oorsprong of veiligheid van die palet, hou liewer verby.
  • Binnelandse palette word soms geensins behandel nie; kyk uit vir skade weens kewers (fyn stof soos saagsels onder die palet) en goggas.
  • Werk altyd met ’n gesigmasker en handskoene. Liewer bang Jan as dooie Jan. · Moet nooit palethout gebruik vir projekte soos werkoppervlakke, snyborde, skinkborde of enigiets waar kos betrokke is nie.
  • Maak seker dat jy presies weet watter soort palethout jy gebruik en dat jy dit goed behandel en verseël as jy dit binnenshuis gebruik.

Palethout is daardie perfekte voorbeeld van iets wat in teorie briljant is, maar wanneer jy die besigheid van nader beloer, dalk prakties nie so wonderlik is nie. Maar, doen soos jy met alle DDS-projekte sal doen: doen jou navorsing, vra die raad van iemand wat jy vertrou en spring aan die werk!

Vir die res is daar YouTube.