’n Nuwe voorkoms met spuitverf

Anita Nesbit van Kaapstad skryf: Ek is dol oor die kleurvolle kaste op bladsy 49 van die Julie 2018-uitgawe; hoe kan ek daardie effek verkry?

Louise Curtis van Colour Wheel, wat die kaste gespuitverf het, antwoord: Ons stel voor jy laat enige spuitverfwerk aan die kenners oor sodat jy seker kan wees die item is reg voorberei en het ’n afwerking van goeie gehalte. Jy kan ’n hoëglans-, satynglans- of mat afwerking in enige kleur uit die Plascon- of Dulux-reeks kies (ons gebruik die kleurkodes om die spesifieke skakering te verkry). In dié geval is die kasdeure afgehaal en by ons fabriek oorgespuit met ’n satynglansverf; ons het Sirca Paints, ’n ingevoerde produk van Italië, gebruik.

Spuitverf is ’n kostedoeltreffende opsie as jy ou meubels nuwe lewe wil gee pleks van nuwes te koop! Dis een van die maklikste maniere om meubels op te kikker en ’n vertrek ’n nuwe voorkoms te gee. Een van ons klante het al selfs ’n klavier laat spuitverf!

KONTAK colourwheel.co.za