Foto’s Greg Cox Produksie Marian van Wyk

Mooi, mooier, metro!

Metroteëls, wat in 1904 spesifiek vir New York se eerste moltreinstasie ontwerp is, bly ’n tydlose keuse. “Meer as ’n eeu later is die metroteël (‘subway tile’) se klassieke skoonheid, duursaamheid en persoonlikheid steeds ’n groot gunsteling,” sê Nicole Russell van Italtile. “Met ’n paar ontwerp-evolusies hier en daar bly dit ’n moderne keuse met ’n tikkie nostalgie. Nicole deel ’n paar wenke hoe om dié teëls in die kombuis te gebruik:

• Die metroteël met afgeskuinste rande is ’n moderner weergawe van die oorspronklike plat teël; dis ideaal vir ’n ruimte waar jy ’n tikkie trefkrag wil verleen, soos by ’n eenvoudige spatpaneel. Die afgeskuinste teël het ook ’n effens meer elegante gevoel as die plat teël. Albei kan in verskeie patrone gelê word, maar die afgeskuinste teël verleen meer diepte aan ’n muur. Onthou, metroteëls moet net teen mure gebruik word.

• Terwyl metroteëls tydloos is, het hul ontwerpe, kleure en lengtes in ’n meer modieuse rigting begin beweeg – en dit is ’n opwindende skuif. Deesdae is daar ’n verskeidenheid keuses, van baksteenkleure tot mini-mosaïek. Daar is regtig iets vir elkeen en die opsies raak net meer.

• Buiten metroteëls is daar verskeie ander opsies vir die kombuis en ons kom agter dat verbruikers al hoe dapperder raak met die gebruik van kleur. Danksy al die idees en dekorinspirasie wat platforms soos Pinterest bied, skep ons verbruikers asemrowende binneruimtes deur treffende fatsoene, kleure en teksture in te span. Patroonteëls is baie gewild, en “laslappie”-teëls is ’n tydlose tendens. Mini-mosaïekteëls is regtig ’n kostedoeltreffende moderne produk wat gewild is onder verbruikers.

WIE WOON HIER?

Sarah en Richard Mattheyse

WAAR Protea-Hoogte, Brackenfell

GROOTTE 9 m²

Toe Sarah en Richard Mattheyse in Desember 2012 by hul nuwe huis intrek, was hulle alte bly oor die tuin met genoeg speelplek vir hul hond, en dat dit destyds nader aan albei se werkplek was. Maar die kombuis – eintlik net twee mure regoor mekaar en ’n agterdeur – was ongemaklik en heeltemal onprakties.

“Ons sou die uitleg moes verander om die klein ruimte beter te benut,” sê Sarah, wat van die begin af in haar kop en op papier aan die ontwerp en uitleg beplan en verander het. Uiteindelik, in 2017, het die paartjie die opknap aangepak. Omdat hulle alles self wou doen en net saans en oor naweke kon werk, het die projek hulle sowat ses maande lank besig gehou. Al waarvoor hulle nie kans gesien het nie, was die pleister- en teëlwerk. “Ons het alles uitgehaal en van nuuts af begin,” sê Sarah. “Ons wou die beskikbare ruimte ten volle benut, beter bêreplek skep en die vertrek meer prakties maak om te gebruik en skoon te hou.”

Ongemaklike U-vormige kaste is vervang met een lang toonbank teen die een muur. Pleks van die standaard-600 mm is dit 700 mm diep vir groter werkspasie en meer pakplek; daaronder het hulle groot, diep laaie ingesit. Die oond en wasbak is ook in dié eenheid geplaas om meer bêreplek elders te skep.

Voor Alles in die ou kombuis is uitgebreek en die agterdeur is met een van Matthew’s Aluminium vervang. Breekgoed vir alledaagse gebruik staan op oop rakke van berkelaaghout. Bosch-oond, -glasblad en -suigwaaier van Hirsch’s; vlekvryestaalblad gesny deur Schuurman Lasercut

Ons hou van hoe ons ’n oop gevoel in so ’n klein area kon skep. – Sarah en Richard

KASTE

Vollengte-kaste met nog laaie is teen die oorkantse muur gebou. Hier is die yskas, skottelgoedwasser en klein elektriese toestelle almal agter deure versteek. Kragpunte is geskuif en bygevoeg, en waterpunte en ’n dreineringspyp vir die skottelgoedwasser is aangepas.

TOTAAL: R56 332

Materiaal en saagwerk vir kaste 20 730

Blad van vlekvrye staal 1 687

Sanitêre ware en toebehore 8 750

Kookvlak, oond en suigwaaier 6 700

Verf, verseëlaar en gom 1 900

Elektriese toebehore 2 500

Huur van gereedskap 1 350

Teëls en voegbry 4 515

Arbeid vir teël- en pleisterwerk 1 800

Aluminiumdeur (installering ingesluit) 6 400

Die paartjie het karkaspanele van melamien-bedekte spaanderbord op maat laat saag. Die laaivoorkante is bedek met swart melamien, terwyl deure van berkelaaghout warmte inbring. PG Bison-spaanderbord, laaghout en skarniere van Lumber King

TEKA-wasbak van On Tap; kashandvatsels van Gelmar; rakstutte van Mica Hardware; metroteëls van Italtile; kraan en toebehore van One Stop Plumbers Shop

Aan die werk...

MURE

Metroteëls pas pragtig in by die nuwe ruimte waar natuurlike en moderne industriële teksture gekombineer is in ’n eenvoudige palet van swart, wit en ligte hout.

WERKBLAD

Vir die werkvlak is vlekvrye staal met Gorilla Glue op berkelaaghout geplak – dis ’n duursame oppervlak wat by die paartjie se styl en begroting gepas het.

DIE GROOTSTE UITDAGING?

Wat sou julle volgende keer anders doen? Ons het vollengte-deure wat oopswaai en dan haaks in die kaste inskuif (“pocket doors”) geïnstalleer om die skottelgoedwasser, mikrogolf en klein toestelle te versteek. Ongelukkig maak die kombinasie van die skarniere of spore en die gewig van die deure dat hulle nie so glad beweeg soos wat hulle moet nie. Die oopmaak is maklik genoeg, maar dit sukkel soms met die toemaakslag. Agterna beskou moes ons meer geskikte toebehore vir sulke groot inskuifdeure gekry het.

Enige ander wenke? Wees buigsaam met jou oorspronklike ontwerp en verbind jou eers sodra jy al die ergonomie in ag geneem het – van hoe deure oopmaak tot hoe jy die skottelgoedwasser gaan uitpak. Dié soort goed is belangrik! Wanneer jy ’n projek self aanpak, hou by wat jy bereid is om te leer.

VERSKAFFERS

Matthew’s Aluminium 021 905 4792

On Tap 033 345 1647

Gelmar 021 035 0080

Hirsch’s 031 582 4400

Schuurman Lasercut 021 951 7733

Lumber King 021 883 2842

Mica Hardware 086 112 2114

Italtile 010 271 2272

One Stop Plumbers Shop 021 982 7480

PG Bison 011 897 5200