Vraag: Waar het die Parkhursts daardie lieflike Persiese mat op die voorblad van Augustus 2020 se uitgawe gekoop? – Martie du Toit via Facebook
Antwoord: Hulle het dié mat by vriende gekry, wat dit ook tweedehands gekoop het. Volgens die eienaar kan jy inloer by Odds & Ends, waar hulle heelwat ander mooigoed gekoop het. Of kyk by Rugs Original vir iets soortgelyks.
Vraag: Het julle enige inligting oor die kunswerk op bladsy 18 van jul Mei 2020-uitgawe? – Sandy Linley, Oos-Londen
Antwoord: Die kunstenaar is Alex Vosloo en hy word verteenwoordig deur Jandre Pieters van die galery Art It Is.
Vraag: Watter vloerbedekking is in die eetkamer op bladsy 40 van Tuis, Oktober 2018, gebruik? Dis asemrowend mooi. – Cherie van Dyk, Oos-Londen
Antwoord: Dit is ’n afgevlakte vloer deur Screedworx, wat vloere in ’n groot verskeidenheid kleure installeer. Volgens die huiseienaar, Trish Wiese, is die kleur iets tussen grys en bruin.
Vraag: Waar het Antoinette Stockley die pragtige leunstoele op bladsy 35 van jul Junie 2020-uitgawe gekoop? – Karlien van Staden, Johannesburg
Antwoord: Die stoele is van Incanda Furniture.
Vraag: Hoe het die regrukspan die vloer op bladsy 83 van jul Augustus 2019-uitgawe gelê? – Danie Kriel, Pretoria
Antwoord: Hulle het eers die ou teëls in die kombuis en oopplan-leefvertrek verwyder en toe ’n nuwe afvlaklaag gegiet. Dis ’n eenvoudige sementmengsel wat oor ’n betonblad (die basis wat jy gewoonlik onder vloerbedekkings soos teëls, volvloermatte of viniel- en gelamineerde vloere kry) aangewend kan word. Toe die afvlaklaag goed droog was, het hulle dit geseël met Woodoc 45 Teël en Sement (woodoc.com).
Vraag: Het julle dalk die naam van die Ikat-materiaal waarmee die strooikussings in die sitkamer op bladsy 31 van Augustus 2020 se Tuis oorgetrek is? – Claudia Williams, Plumstead
Antwoord: Die huiseienaar het die materiaal ’n paar jaar gelede op ’n uitverkoping by Sullies gekoop. Ons het al soortgelyke ontwerpe by Home Fabrics gesien.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET