'n Tuis-leser skryf Ons sementvloer is gekraak en moet herstel word. Die vloer is sowat 50 jaar oud, en is net ’n gewone afgevlakte vloer (dit het nie ’n sementagtige bolaag nie). Hoe kan ons dit regmaak?

Joanne Sykes, bemarkingsbestuurder by Cemcrete, antwoord Groot strukturele krake soos dié is baie moeilik om te herstel en ’n naatlose eindresultaat te hê. Daar is wel ’n paar opsies, soos om die krake te vul met ’n herstelmortel of iets soos ons PrimerCote (tot ’n pasta aangemaak). Dit gaan ongelukkig nie ’n naatlose eindresultaat gee nie – jy sal sien waar daar gewerk is. Andersins kan jy die krake vul en dan ons Concrete Primer aanwend om die wisselende droogtyd van die huidige vloersubstraat te verminder.

Jy kan dan CreteCote of RenoCrete bo-oor aanwend om die hele vloer ’n vars voorkoms te gee. Onthou net, krake kan wel mettertyd weer verskyn.

’n Derde – meer ingrypende – oplossing is om die krake soos bo te herstel en dan CemLam-membraan oor die hele vloer te lê, gevolg deur ’n 50 mm-afvlaklaag met Colour Hardener. Dit sal die vloer ’n heeltemal nuwe afwerking gee; enige beweging in die substraat onder daardie membraan sal nie op die nuwe vloeroppervlak wys nie. Maar onthou, dit sal die vloer se vlak verhoog; kyk of jou deure of ander ingeboude meublement gelig moet word.