Elize Ingels van Centurion skryf Ons het ’n houthuis in die Bosveld wat ongelooflik warm in die somer en koud in die winter is. Selfs die lugversorger maak geen verskil nie. Die sinkdak het reeds drie lae spesiale verf gekry, maar dit het ook niks gehelp nie. Daar is geen plafon in die leefareas nie, net oop dakbalke. Kan IsoBoard teen die sinkdak geïnstalleer word? En kan ons dit gebruik vir die mure, wat ook nie ordentlik geïsoleer is nie? 

Mark Russell, hoof van tegniese ondersteuning en bemarking by IsoBoard, antwoord Houthuise het eienskappe wat temperatuurbeheer moeilik maak; die belangrikste hiervan is ’n gebrek aan termiese massa. Dié term verwys na die afwesigheid van digte materiaal, soos bakstene of beton, wat hitte stadig absorbeer en vrystel en dan matige temperature help handhaaf. By houthuise is daar dikwels ook openinge by voeë, dakoorhange, deur- en vensterrame en vloerplanke (as die huis op ’n stellasie gebou is) waardeur lug kan ontsnap. Die tipe glasvensters sal ook ’n uitwerking hê, veral as daar nie juis wye dakoorhange of verandas is wat skadu gooi nie.

Die goeie nuus is dat jy IsoBoard direk teen jou dak kan aanbring deur die borde só te sny dat dit tussen die balke pas. Dit word met ’n spesiale gom geheg (wat ons verskaf). As alternatief kan jy die borde soos ’n gewone plafon aan die balke heg. In albei gevalle sal 50 mm dik borde geskik wees.

Jy kan IsoBoard aan die buite- of binnekant van die huis se mure heg; maak wel net seker dis beskerm teen stampe en direkte sonlig. Die beste sou wees om die IsoBoard agter ’n beskermende bekleding aan die buitekant van die huis te installeer.

Jy sal waarskynlik borde van 30 mm hiervoor nodig hê. As jou huis op ’n stellasie gebou is, kan jy dit oorweeg om IsoBoard onder die vloerplanke ook aan te bring. Dit sal die binnenshuise temperatuur van jou huis in die winter dramaties verbeter.

KONTAK isoboard.com

NUUT OP FACEBOOK

Het jy ’n dringende vraag wat net nie kan wag nie?

Sluit dan aan by ons Tuis l Home-Kennersgroep op Facebook sodat die span, kundiges en ander lesers kan help.